God se Woord in vandag se woorde

Wonderlike oranje kragopwekkers


Ai, Eskom, met julle moet ’n mens wraggies hare op jou tande hê. Inteendeel, ek moes myne al ’n paar keer laat knip! My werk, soos baie ander Suid-Afrikaners staan botstil as daar nie krag in die drade is nie en vir handjies gevou sit is daar nie tyd nie.

Toe daar nóg ’n kragonderbreking kom, sak ek af hier na die ysterwarewinkel. Die verkoopsman vra wat ek wil doen met die kragopwekker. Ek sê: Nee, net ons twee rekenaars met al die skerms aandryf as die krag weer soek is. Daar staan so ’n mooi, klein oranje kragopwekkertjie, 1KVA. Dis genoeg vir wat jy nodig het, sê die verkoopsman en so stap ek met ’n splinternuwe kragopwekker by die huis in. Ek wou vir my vrou iets van Eskom sê, maar bedink myself.

Dit was nie lank daarna nie toe die batterypak van die rekenaars, oond, alarmstelsel en dies meer aankondig dat Eskom fort is. Ek staan manhaftig op en skakel al die hoofskakelaars af. Met die tweede pluk vat die kragopwekker. Ek moet bieg – ek was verbaas. Ek druk toe die krag verlengingskoord aan die een kant by die kragopwekker in en die ander kant by die kragprop in die motorhuis in. Ek skakel die krag en ligskakelaars op die hoofbord aan. Die klein kragopwekker het so ’n keer of twee gebrul, toe dreun hy lekker.

Ek stap die huis in en tel verbaas alles wat die klein opwekker trek: 2 rekenaars, 5 skerms, TV, yskas en 14 liggies! Die klein opwekkertjie doen sy ding, nè! Ek kon nie glo dat die klein masjientjie tot so baie in staat was nie.

Na twee en ’n halfuur se load shedding stap ek na die kragopwekkertjie en skakel hom af, vat ’n lap en vee hom mooi af en ek vang myself hardop met ’n masjien praat: “Sjoe, boetie, ek het regtig nie gedink jy gaan dit alles regkry nie. Jy maak ’n geweldige klomp krag bymekaar.”

Hoekom die storie? Want die skrywer van Efesiërs sê dat ons ook ’n hoop krag in ons het: 19-21Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig daardie krag regtig is toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee het. Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene.

Sjoe, dieselfde groot krag wat Jesus uit die diepte van die doodse skaduwee uitgetrek het, is ook in ons. En tog, as ek so om my kyk, sien ek nie veel van die krag van God uit sy kinders straal nie. Eintlik lyk dit maar redelik donker hier om my, so asof Eskom weer ’n bietjie beurtkrag toegepas het. Ek wonder hoekom is dit so…

Dalk is dit omdat ons nie eens besef dat ons hierdie wonderlike oranje kragopwekkers is wat die ligte vir die wêreld kan aansit nie. Dis donker in die wêreld. Dis nag daar. Dis seer en swaar en mense loop in mekaar vas. Hulle loop bo-oor mekaar en vertrap mekaar. En ons sit met die krag om die lig aan te skakel.

Hier is ’n uitdaging. Gee jouself ’n pluk of twee, sodat jy die krag wat van Jesus af kom kan sigbaar maak. Maak jou oë oop en sien die donker om jou raak. Gaan soek die plekke waar Jesus se krag nodig is. Laat hulle toe om by jou in te prop en mag ander dan van jou sê: “Sjoe, boetie, ek het regtig nie gedink jy gaan dit alles regkry nie. Jy maak ’n geweldige klomp krag bymekaar.”

Teks

Efesiërs 1:15-23

Om oor na te dink

Glo jy in Jesus?

Glo jy dat die krag wat Hom uit die dood gaan haal het ook in jou is?

Wie kan jy gaan help met hulle load shedding?

Gebed

Ons Vader, hoe groot is U nie. U gee ons al die krag wat ons nodig het om ’n moewiese verskil in die wêreld te maak en tog besef ons dit nie. Versigtig vra ek, Vader, dat U ons ’n pluk of twee sal gee, sodat ons sal begin dreun en krag gee vir die donker wêreld daar buite. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek