God van nog kanse
Daar kom gereeld tye wat ons verkeerde keuses maak. Van hulle is groter as ander. Sommige het ’n groot impak op ons lewe en veroorsaak dat ons in die sonde verstrengel raak. Baie van ons het op ’n tyd ons rug op God gedraai. En dis niks vreemd nie. Selfs die mense wat die Bybel gehaal het, het ook so gemaak: 3Dit is eintlik maar die storie van ons almal se lewens. Eers het ons almal agter die sonde aangeloop. Wat ons gedink of gedoen het, was die ene sonde. As iets sonde was, was ons daar om dit te doen. Ons het dieselfde menslike geaardheid as al die ander gehad: ons het net in die sonde belanggestel. En vir iemand wat so is, wag daar net een ding: die ewige straf van God.
Eintlik wil ek soos Frank Sinatra sê: That’s life! Dis so in ons in om verkeerde keuses te maak en van die pad af te gaan en ja, die gevolge is nie so hot nie. Daar is net een pad en dit is die hel. Dit is die loon wat ons verdien vir al die verkeerde dinge wat ons doen. Dis die prys aan die einde van ’n verkeerde leefwyse.
Gelukkig, as jy vir God ken, weet jy dat die storie nie daar eindig nie. 4Maar God het sake, en veral ons, nie so gelos nie. Hy het ons baie lief en Hy loop oor van goedheid. Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin.
God het dit vir ons moontlik gemaak om ná alles wat ons gedoen het, weer voor te begin. Kan jy dit glo? Eintlik verdien ons die dood, maar God bewerk alles so dat ons weer voor kan begin. Dit laat my dink aan die gekrulde draad by die speletjie- afdeling van ’n basaar. Met ’n ringetjie om die draad moet jy versigtig om elke draai gaan en nie aan die draad raak nie. As jy wel aan die draad raak, skrik jy jou dinges af, want hier langs jou gaan ’n groot buzzer af en dan is jy uit.
God sê ja, jy het aan die draad geraak, jy is eintlik uit, maar ek gee jou weer ’n kans. Jy kan voor begin. Jy kan weer probeer om die draaie van die lewe aan te durf. Ek gee jou nog ’n kans.
’n Vriend van my het in die draaie van die lewe vasgeval. Dit het al hier op universiteit begin waar hy oor die tou getrap het. Die huwelik het nie lank gehou nie en nog skewe verhoudings het gevolg. Agt jaar val hy vas in die toue van dwelms. Soveel so dat hy alles verloor. Selfs sy besigheid waaraan hy so hard gewerk het.
En toe hy so ver weg was dat hy homself nie meer herken het nie, het my vriend na God gedraai en gesê: Here, ek kan nie meer nie. En op ’n manier ervaar hy hierdie vers 4 aan sy lyf: Maar God het sake, en veral ons, nie so gelos nie. Hy het ons baie lief en Hy loop oor van goedheid. Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin.
God kom en verlos hom van al sy verkeerde keuses. Hy kom maak hom los uit die wêreldse toue waarin hy verstrengel was en hy kry weer ’n kans om van vooraf te begin. Dis vir my ’n moderne weergawe van die verlore seun, nè?
Dit is hoe ons God is. Hy staan met oop arms en wag totdat ons besef dat ons vasgeval het in die verkeerde goeters en dat ons na Hom sal terugkeer. Dat ons ons rug op die sonde sal draai en na God toe sal hardloop. God staan gereed om ons vas te druk en vir ons nog ’n kans te gee…
Teks
Efesiërs 2:1-10
Om oor na te dink
Waar is jy?
Het jy weer ’n kans nodig?
God staan gereed. Glo jy dit?
Gebed
Here, hoe sê ’n mens dankie vir nog ’n kans? Hoe sê ’n mens dankie vir hoop en ’n kans om weer voor te begin. Help my om vas te byt en die gate mis te trap. Help my om die regte keuses te maak. Help my om elke keer op te staan. Amen