Herstel van ’n rotavator
Op die eerste wingerdplaas waar ek ’n plaasbestuurder was, het ons in die herfs rog tussen die wingerd gesaai. Die idee was nie om die rog te oes nie, maar eerder om dit weer in die grond in te werk vir organiese bemesting. Die meeste van die grond was sanderig, so ons het die rog wat gesaai is met ’n rotavator ingewerk. Die rotavator “spit” die grond baie deeglik om, netjieser as wat ’n mens dit met ’n vurk kan doen. Weens die feit dat die masjien so vinnig agter die trekker aanloop, kry die meganiese kant baie pak en is die onderhoud baie hoog.
Op ’n dag kom ek agter dat een van die rotavators nie die grond ordentlik omwerk nie. Ek loer bietjie daar en sien later dat een van die ratte in die ratkas kis is. Ek weet nie wat my besiel het nie, maar ek besluit om self die herstelwerk aan te pak. Dit het ek nog nooit gedoen nie.
Ek sak af na die onderdeleplek en koop nuwe ratte en kettings en vra sommer vir ’n skets van die binnewerke. Terug by die plaas het die uitmekaarhaal vinnig gegaan, maar ai, dit was ’n gesukkel om alles weer op die regte plekke terug te kry. Dit was laataand toe ek agter die trekker en masjien uitklim. Ek was eintlik verbaas dat daar nie enige spare parts rondgelê het nie.
Vroeg die volgende oggend was ek weer op die trekker om die herstelde rotavator in die grond te gaan druk. Ai, was dit nie ’n lekker gevoel om te sien hoe sorgvuldig die masjien die grond omdolwe nie. Die masjien het nou nog beter gewerk as voorheen. Ek het trots gevoel oor die projek van my wat so suksesvol was. Die masjien het nou klopdisselboom geploeg.
Op ’n manier was ons ook stukkend. Die sonde het ons kom stukkend maak en ons kon nie by ons oorspronklike skeppingsdoel uitkom nie. Die werk wat ons gedoen het, het nie lekker gelyk nie en ons Skepper het besef Hy moes ’n plan maak om ons te herstel.
Ons weet wat sy plan was: Hy het vir Jesus aan die kruis laat sterf sodat die straf van die sonde nie meer soos ’n handrem opgetrek is en ons weerhou om die lewe ten volle te geniet nie. God het weer die stukkend kom regmaak: 10Onthou, God het ons gemaak wat ons nou is. Dit is Hy wat ons nuut gemaak het omdat ons Christus Jesus s’n is. Hy het dit gedoen sodat ons reg en goed kan leef soos Hy lankal besluit het ons moet leef.
Die vraag is of ons so lewe. Lewe ons soos die stukkende rotavator wat nog nie herstel is nie? Leef ons soos die masjien wat net halwe werk doen en die oorsaak is dat die rog so stuk-stuk opkom? Of leef ons die lewe ná die herstelwerk?
Sien mense die effek van die herstelwerk in ons lewe raak? Sien mense dat ons reg en goed leef? Presies soos God dit reg van die begin af bedoel het? Sien mense die effek van Jesus se kruisdood in ons lewe raak? Sien ander ’n lewe van dankbaarheid?
Die lewe is hard daar buite en soms breek daar iets in ons. Dit is baie keer die oorsaak dat ons uitmekaarval en dan het ons weer herstelwerk nodig. Dit is tyd dat ons weer aanmeld by die een wat ons nuut maak. Ons moet aanmeld vir herstelwerk. Wanneer ons besef wat Jesus vir ons gedoen het en dit deel maak van ons lewe, kan ons weer reg lewe. Dan kom die goeddoen sommer vanself en loop ons soos soetkoek deur die wêreld. Die effek van ons lewe is dan sigbaar en die saad ontkiem in harmonie.
Teks
Om oor na te dink
Was jy al in vir herstelwerk?
Ervaar mense dit rondom jou?
Hoe lyk die opkoms van die saad?
Gebed
Vader, dankie vir ’n tweede kans. Dankie dat u Seun bereid was om versoening tussen my en U te bewerkstellig. Ek is nou nuutgemaak sodat ek U beeld aan die wêreld kan weerkaats. Help my om dit te onthou. Amen