God se dinge genoeg
Tydens die Woordfees in ons dorp is daar soos gewoonlik baie hittige besprekings oor alles waaraan ’n mens kan dink. Filosowe dink en praat lank oor moeilike onderwerpe. Politici probeer kyk waar die probleem met ons land is en gee ’n paar vinnige oplossings. Die teoloë is nie ver agter nie en vrae word gevra soos of God rugby speel en…en…
Daar is niks verkeerd om oor die dinge te praat en te probeer sin maak oor dinge wat ons nie aldag verstaan nie. Maar wat ons altyd moet onthou is dat die dinge nooit so belangrik moet word dat ons die hoofdoel mis nie. Soos byvoorbeeld die Jode in Jesus se tyd. Hulle het so klem gelê op die tradisies en die moets en moenies dat hulle vir Jesus gemis het.
Die skrywer van Efesiërs skets vinnig die prentjie en los dan die bom: 11Julle moet onthou waar julle vroeër vandaan gekom het. Julle was nie Jode nie. Die klomp Jode, wat vreeslik klem lê op die uiterlike seremonie van die besnydenis, het die neus vir julle opgetrek omdat julle nie ook daardie hele seremonie deurgemaak het nie. Hulle het julle toegesnou en gesê: “Julle klomp onbesnedenes!” Maar die besnydenis is vir God nie so belangrik nie, want dit is iets wat mense doen.
Die Jode lê klem op die verkeerde plek. Dalk vra hulle verkeerde vrae wat nie noodwendig ’n regte antwoord het nie. Hulle lê klem op dinge wat mense doen in plaas daarvan dat hulle klem lê op wat God doen.
Uit ondervinding weet ons dat ons eie probeerslae nie lekker werk nie. Die planne faal en kom op die ou end tot niks. Maar God se planne werk altyd. Deur die eeue is God se planne bewys. Eintlik moet ons so dankbaar wees dat dit nie van ons afhang of ons hemel toe gaan nie, maar van God. Dit is net deur God se plan dat ons die kans kry op redding.
Ons was verlore en toe kom God… 12… Julle het geestelik in hierdie wêreld rondgedobber sonder enige vooruitsig of hoop, want julle het God nie geken nie. 13Maar nou is julle deel van die mense wat aan Christus Jesus behoort. Julle was eens so ver van God af. Maar Jesus het vir julle gesterf en sy bloed vir julle gegee sodat julle nou naby God kan wees.
Nie wat die mens reggekry het nie. Die hele reddingspoging kom van God se kant af. Dit is waarop ons moet konsentreer.
Ek ry Yzerfontein toe en tel ’n ou dame langs die pad op. Sy is op pad na Darling. Toe ek aftrek om haar op te laai, sien ek hoe sit sy haar hande bymekaar in dankbaarheid teenoor die Here vir die geleentheid.
Sy het keelkanker gehad en praat deur ‘n buis. Sy bedank my toe en vertel vir my hoe goed is die Here vir haar en hoe dankbaar sy is dat ek gestop het, want sien, sy het gebid en geweet die Vader sal haar gebed verhoor.
In die motor speel die CD van Drie Bestes en die liedjie begin: My eyes can see the glory of the coming of the Lord!
Ons twee sing toe saam. Ek sing en sy begelei met die hande, want sy het nie ‘n stem nie.
Terwyl die trane so oor my wange loop, sukkel ek om die pad te sien. Ek het lanklaas so klein en humble gevoel.
Die vrou verstaan van naby aan God leef. Sy het nie veel nie, nie eens ’n stem nie en tog glo en vertrou sy op God. Sy glo dat alles van God af kom. Sy het self nie enige mensgemaakte goedjies om aan vas te hou nie. Alles is genade en dit is genoeg vir haar. Die bloed van Jesus is oorgenoeg.
Teks
Om oor na te dink
Hoeveel maak jy op mense-dinge staat?
Hoeveel vertrou jy net op God?
Is Jesus se bloed genoeg?
Gebed
Dankie Vader, vir u Seun se bloed wat my met U versoen het. Dankie dat ek kan weet dat niks meer vir my verlossing nodig is nie. Ek vertrou dat U die pad saam met my sal stap sodat ek ’n lewe van gehoorsaamheid aan U kan leef. Amen