God se Woord in vandag se woorde

50 Shades van ’n wit leuentjie


Ons is baie reguit gesê dat ons die ou lewe moet los en dat ons ons klere in ’n wasmasjien moet gooi sodat ons weer skoon klere kan aantrek. Die vuil dade hoort in die verlede en die goeie dade in die hede. Maar tog is dit nie sommer net vir ’n skakelaar wat geflip word en ewe skielik is ons af vir die slegte dade en aan vir die goeie dade nie. Nee, dis ’n proses. ’n Harde proses om die manier waarop ons in die wêreld leef te verander sodat ons dade beter lyk.

Gelukkig ken ons nou al die Woord van God. Dit is nie net ’n klomp teologiese openbaringe nie, maar daar is ook ’n klomp praktiese raad. Vir die volgende paar keer gaan ons by elkeen stilstaan. Die eerste praktiese raad: 25Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God.

’n Vriendin se man (kom ons noem hom Tienie) werk vir ’n baie vooraanstaande man. Die man wil sy een huis wit laat verf. Tienie sê dis reg, hy sal die wit verf kry. Nee, sê die eienaar, hy wil die kleur kies. “Wit is mos wit!” sê Tienie, maar die eienaar dring aan op kleurkaarte van wit. En sowaar! Daar is ’n klomp witte, ver meer as Fifty Shades of Grey.

Ek wonder waar op die kleurkaart sal ons ’n wit leuentjie kry. Sal dit nader aan wit wees of sal dit wit met ’n grys skynsel wees? Ek picture die prentjie waar ’n engel iemand se witleun kaartjie neem en dit vergelyk met die wit kaart om te kyk waar dit inpas. En in my geestesoog sien ek dat die engel sukkel om ’n kleur te kry wat match.

Jy sien, daar is nie iets soos ’n wit leuentjie nie. Dit is of die waarheid of ’n leuen. Daar is nie iets soos ’n halwe waarheid nie. Dis of ten volle waar of ten volle onwaar. Ons word so maklik in ’n hoek vasgedruk en dan vertel ons amper die waarheid en ons kom weg daarmee. Ons voel nie eens sleg nie, want ons kop redeneer dit so mooi weg. Tog was dit nie die waarheid nie en ons het iemand anders om die bos gelei.

Hierdie manier van doen moet ons uit ons lewens trek. Wanneer ons hoor ons moet ons vuil klere uittrek en skoon geestelike klere aantrek, is dit die eerste stop. Wees eerlik. Wees tot die sent toe eerlik. Maak seker dat jy op so ’n manier die feite oordra dat niemand onseker is en mislei word nie. Laat jou ja jou ja wees en jou nee jou nee.

Die bankrower se eerste rooftog was vir seker nie ’n bank nie. Nee, hy het seker begin om ’n sjokolade uit die winkel te steel. Die besigheidsman wat vasgetrek is vir miljoene se bedrog het heel waarskynlik eers met ’n paar rand se bedrog begin. Ai! Hoeveel groot en suksesvolle mense het al in die hek geduik omdat hulle die waarheid so ’n stertjie gegee het en voor hulle kon keer het hulle pens-en-pootjies in die gat van versoeking getrap.

Dis nie vir almal ewe maklik om die vuil klere uit te trek nie, maar as ons ernstig is en die Heilige Gees toelaat om die beheer en bestuur van ons lewe oor te neem, is dit die beginpunt. Maak seker dat jy altyd die volle waarheid praat. Moenie wonder hoeveel shades is daar van ’n wit leuentjie nie. Daar bestaan nie ’n wit leuentjie nie. Dis of wit vir die waarheid of swart vir die onwaarheid. Geen skakerings tussenin nie.

Stap op die pad van die volle waarheid. Dis die pad na God toe…

Teks:

Efesiërs  4:17-32

Om oor na te dink

Is ’n wit leuentjie soms geregverdig?

Verdraai jy soms die waarheid?

Waar moet jy anders met die waarheid omgaan?

Gebed

Here, ek moet bieg dat ek soms in die gat trap. Ek besef dat ek al so gewoond geraak het om soms die waarheid te verdraai dat ek nie meer eens agterkom dat ek dit doen nie. Vergewe my hiervoor. Skakel vir my rooi ligte aan as ek weer die pad wil stap. Help my om die waarheid, die volle waarheid orals te praat. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek