God se Woord in vandag se woorde

Aanvaarbaar gesterf vir God


Kan ’n mens ooit die verlossingsboodskap van Jesus té veel hoor? Ek dink wanneer ’n mens besef waarheen jou pad eintlik bespreek was en wat alles met jou sou gebeur as jou en Jesus se paaie nie by die kruis gekruis het nie, dan wíl ’n mens die boodskap oor en oor en oor hoor.

2… Jesus het gesorg dat hulle vir God aanvaarbaar is; daarvoor moes Hy egter sy eie lewe gee. Sjoe, dit is lifesaving! Kom ons lees weer die vers: Jesus het gesorg dat hulle vir God aanvaarbaar is; daarvoor moes Hy egter sy eie lewe gee.

Die dade wat ons gedoen het en ja, ongelukkig nog steeds van tyd tot tyd doen, stuit God voor die bors. Ons verdien ’n ander pad. Ons verdien ’n Godverlate pad – ’n pad waar God nie is nie. Mag ons daarvan gespaar word, want daar sal net chaos wees waar mense mekaar vernietig.

Selfs vandag nog verdien ons dat God ons soos ’n té warm aartappel uitspoeg. Maar God doen dit nie, want as Hy na ons kyk via die kruis van Christus, is dit asof Jesus se kruis die verkeerde dade uitfilter.

Tog gee dit my nie die reg om met hierdie klomp liefde en genade, wat ek elke dag in oormaat ontvang, te mors nie. Ek kan nie ’n houding inneem van: “Jesus se bloed was in ieder geval al my sondes af, hoekom dan nou nie maar weer ’n bietjie in die modder van die lewe gaan speel nie?”

God sal dit nie toelaat nie. God sal nie toelaat dat iemand mors met Jesus se bloed nie. Hierdie was ’n duur prys: Jesus se lewe. Die hoogste, grootste prys wat ooit betaal kon word: Jesus se bloed moes vloei vir my en jou sondes. Dit is al wat kon werk, sodat ek en jy, te midde van ons foute, weer by God kon uitkom.

Wanneer ek dan verstaan van Jesus se pyn aan ’n kruis, wanneer ek verstaan dat God weer met liefdevolle oë na my kyk, kan ek nie anders as om op te spring en van die klomp genade en liefde aan ander te wil gee nie.

Wanneer jy besef wat God deur Jesus aan die kruis vir jou gedoen het, kan jy nie anders nie. Hoor mooi wat hier staan: wanneer jy besef wat God vir jóú gedoen het, kan jy nie anders nie.

Dan is dit seker waar dat, as ons lewens nie wys dat ons die mense wat in die gutters van lewe is, wil en wel help nie, daar iets verkeerd is met my prentjie van wat werklik aan die kruis gebeur het.

Kom ons span ons kragte in om die wêreld weer te wys van Jesus. Kom ons reik in dankbaarheid uit en maak ’n verskil aan ander, want, alhoewel hulle dit dalk nie eens weet nie, het Jesus se bloed hulle ook aanvaarbaar gemaak in God se oë.

Daarom het hulle weer ’n kans. Daarom het ons weer ’n kans!

Dank God!

Teks
1 Petrus 1:1-2

Om oor na te dink
Wat beteken Jesus se kruisdood?
Hoe raak dit jou lewe?
Met wie kan jy dit nou deel?

Gebed
Vader, hoe sê ’n mens dankie vir Jesus se kruisdood? Hoe lewe ’n mens ’n lewe van dankbaarheid. Hoe kan ander dit sien in my lewe? Ek wil dit gaan wys, help my asseblief deur U Gees. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek