Afgesonder vir die wêreld
Ons staan stil by die prentjie van hoe ’n leier in die kerk moet lyk. Ons het egter besef dat elke persoon wat ’n kind van God is, ook die prentjie moet deel maak van sy of haar lewe.
Die volgende karaktereienskap is eintlik ’n leefwyse: 8Hy moet leef soos die Here wil hê. Nou hoe moet dit wees? Die antwoord kruip weg in die oorspronklike teks wat ons vertaal met “heilig”. Ek en jy moet heilig voor God lewe.
Ek het vir baie lank in my lewe die woord, “heilige”, erg verkeerd verstaan. Ek het gedink dit is ’n beskrywing van hoe ’n goeie Christen jy is. As jy ’n goeie Christen is, skuif jy baie hoog op die heiligheidsleer. Hoogheilige mense, het ek gevoel, is onaantasbaar. Eintlik moet jy uit hulle pad staan en nie steur nie.
In werklikheid is heiligheid eerder ’n beskrywing van jou verhouding met God. Jy sien, heiligheid kan vertaal word met “afgesonder vir God”. Hoe meer ons afgesonder is vir God, hoe minder vorm ons deel van die wêreld. Hoe meer ons God se dinge doen, hoe minder tyd het ons vir die wêreldse dinge. Hoe meer tyd ons aan God se dinge spandeer, hoe heiliger is ons.
En dis hoe die Here wil hê ons moet leef. Afgesonder vir Hom. Opsy gesit vir Hom. Besig met sy dinge en nie besig met die wêreldse dinge nie. Maar dis juis hier by die laasgenoemde waar ons menigmale die pot missit.
Ons is in die wêreld en ons kan onsself nie eenvoudig net onttrek nie. Ons kan nie soos die monnike onsself in ’n klooster gaan toesluit en ons hele lewe gaan toewy aan God nie. Wie gaan dan God se lig in die wêreld wees? Wie gaan Jesus se hande en voete wees?
Ons almal word tog geroep om hier in die wêreld te leef en ’n verskil te maak. Maar ons moet dit doen as heiliges wat afgesonder is vir God. Dis nie maklik nie, want die wêreld trek ’n mens soos ’n magneet aan. Die wêreld trek ’n mens uit die afgesonderdheid van God. Eintlik wil die wêreld jou van God af steel, of altans dit is wat die duiwel sy bes probeer doen.
Ons moet besef dat ons wel in die wêreld is. Ons hoef nie nou ons goedjies te pak en êrens in woestyn te gaan tent opslaan nie. Ons moet ook besef dat God ons vir Hom opsy gesit het en dat ons al hoe meer moet wegbeweeg van wêreldse dinge doen en al hoe meer doen soos mense wat opsy gesit is vir God.
Maar nou kom die dilemma. Ons moet dit doen terwyl ons in die wêreld leef. Ons moet die kragte van die duiwel kan teenstaan. Ons moet seker maak dat ons nie voor die versoekings swig nie. Ons moet seker maak dat ons ten alle tye sterk genoeg is om nie ingesuig te word in die verkeerde dinge van die wêreld nie.
En hiermee moet ons vrede maak. Ons moet vrede maak met die feit dat ons in die wêreld moet wees, want ons moet ander help. Ons is hier geplaas met ’n doel. Ons moet Jesus se hande en voete wees, nie as voëls van eenderse vere nie, maar as afgesonderdes. Ander wil ook so wees. Ander het ’n hunkering om afgesonder te wees vir God, maar hulle weet nie hoe nie. Kom ons gaan help hulle. Kom ons wys hulle hoe om minder in die wêreld te wees en meer afgesonder vir God te lewe.
Teks
Tit 1:6-10
Om oor na te dink
Watter dele van jou lewe is afgesonder vir God en watter dele hou jy vir jouself om te doen soos jy wil?
Hoe kan jy in die wêreld waarin jy lewe dinge op God se manier doen?
Watter wêreldse dinge behoort God se kinders glad nie aan deel te hê nie?
Gebed
Here, help my om my oë op U te hou en te lewe om U te eer, en nie my eie of mense se eer te soek nie. Ek wil elke area van my lewe aan U toewy. Help my om bereid te wees om anders te wees en so sout en lig te wees vir die mense met wie ek elke dag te doen kry. Amen.