God se Woord in vandag se woorde

Al word jy verontreg, moet Jesus nog steeds deur jou skyn – Romeine 12:16-21


al word jy verontreg Kliek hier om teks te lees: Romeine 12:16-21

Ek en my vrou het gehak.

En sy was verkeerd.

Sy het dit erken.

Toe ek vanoggend opstaan, was my wange goed opgestoot en het ek te na gekom gevoel, amper so ’n jammerhartige houding ingeneem. Ek het dit mos nou nie verdien nie. Ek het geweet dat ek nie ’n lekker mens sou wees om mee saam te leef vandag nie. Ek het verontreg gevoel en my gedrag sal dit vandag weerspieël.

Toe praat die Bybel verskriklik hard met my: 17Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie.

Eina!

Is dit nie presies wat ons doen wanneer ons verontreg is en as ons aan die ontvangkant was nie? Ons onttrek ons of ons kry stilstuipe, of ons doen net iets om die ander een terug te kry. Ons besef nie eers ons doen dit nie! Dit is amper ’n  onbewustelike reaksie van ons. Maar die opdrag van God is egter baie duidelik. Dit is verkeerd. Dit is nie wat Hy van ons verwag nie. Hy verwag eerder die volgende: 17… Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien.

Die verontregte dade teen jou moet jou mobiliseer om juis goed te doen. Dit is wat Jesus gedoen het. Juis vir die mense wat Hom aan die kruis vasgespyker het en vandag nog aanmekaar met hul dade nog spykers inkap. Vir hulle het Hy gesterf aan die kruis. Nie gegee wat hulle toekom nie, nie vir hulle gestraf nie. Nee, gedoen sodat hulle vir God deur sy dade kon sien.Peoples, dis nie maklik nie. Daar loop so baie emosies op ’n hoop en dan doen en sê ons dinge wat nie die beeld van God sigbaar maak in ons lewens nie. Tog verwag God dit van ons.

Paulus weet dat die ouens in Romeine hiermee gaan sukkel (eintlik net soos ons ook hiermee sukkel). Daarom herhaal hy die opdrag net in ’n paar ander woorde: 18Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. 19Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie.

Ja, ’n ander naam vir Christene is Vredemakers. Ons moet die ouens wees wat die lood uit die giftige potlode haal. Ons moet die ouens wees wat met die wateremmers rondloop en vure op die tonge blus. Ons moet die ontlonters wees en die lonte uittrek, want hierdie wêreld van ons het soveel vrede nodig.

Ek sien op Facebook ’n video van ’n paar fietsryers wat vir die Argus oefen. In Seepunt staan ’n trokkie effe in die pad. Die fietsryers begin die drywer takel, skop sy voertuig duike in, ruk sy wiperaf, dam hom met die vuiste toe, bespuit hom met pepper spray. Is dit God se mense wat so mors?

Die Bybel is egter nog nie klaar met raad gee nie.

Ons moenie toelaat dat die duiwel ’n inkom kans kry in ons verhoudings nie. En dit is juis hier waar ons vir hom die agterdeur so op ’n skrefie laat oopstaan. Neem die waarskuwing ernstig op: 21Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die oorhand kry nie. Oorwin die Bose deur te doen wat God van jou vra.

Om oor na te dink

Wat is sleg in jou lewe?

Hoe verwag God van jou moet jy daarteen optree?

Watter goeie dinge kan jy doen, sodat die duiwel nie vatkans kan kry nie?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek