God se Woord in vandag se woorde

Alle goeie gawes daal van die Here neer …


Wanneer dit goed gaan met ons, neem ons nie eintlik notisie daarvan nie, maar as ons swaar trek, wonder ons gou hoekom. Ons soek die oorsaak van die swaar sleep by iets wat ons gedoen het of dalk nie gedoen het nie.

Ons wonder of dit dalk ander se skuld is. Of ons wil die pakkie voor God se deur gaan neersit. Maar ons het die afgelope tyd gereeld vir mekaar gesê dat slegte dinge nie uit God kan kom nie.

Dit is wel die goeie dinge wat uit God se hand kom. God se styl is om Sy kinders te oorlaai met goeie dinge. Dit is Sy bestaan en Sy natuur om net die goeie vir ons te wil hê.

En Hy doen dit wel. Die probleem is dat ons dit egter nie raaksien nie. Die swaar sleep oordonder ons bestaan, sodat ons eintlik nie notisie neem van die goeie wat met ons gebeur nie.

Bloot net om asem te haal, is so ’n groot genadegeskenk van God. Die feit dat ons hart hier in ons borskas klop, is ’n wonderwerk. Het jy geweet dat jou bloed elke dag tussen 100 en 150 km beweeg?

God skenk mense om ons met wie ons in verhoudings is, ’n ouer, ’n vriend, ’n eggenoot, ’n kind met wie ons elke dag deur die lewe kan loop. Hoe alleen sou ons nie op ons eie gewees het nie?

Ons kan ruik en sien en hoor en sing en gesels en voel en proe en loop. Elke liewe een is ’n geskenk van God. Gaan praat maar met die dowes en die blindes en die wat lam is, dan sal hulle vir jou mooi vertel van die geskenk wat hulle nie ontvang het nie en hoe verskriklik baie hulle dit mis.

Ons kan dink en redeneer. Ons het ’n rekenaar gekry wat al die impulse na elke plekkie in ons liggaam stuur. Of dit nou is om ’n 50k g-kunsmissak op te tel of ’n klein SIM-kaart uit jou foon te haal. Hierdie grys bol in ons kop is ’n groot geskenk van God.

17Dit is ook Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur. As sulke mooi dinge met julle gebeur waaroor julle maar net kon droom, moet julle weet: dit kom van God af. Of so eenvoudig soos die 1983-vertaling sê: Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.

God is ’n goeie God en daarom vloei net goeie dinge uit Hom. Ons weet mos dat God nie ’n swak of slegte God is nie, daarom vloei daar geen slegte dinge uit Hom nie.

Voordurend moet ons gaan stilsit en toelaat om oorval te word deur al die goeie wat ons van God ontvang. Dan sal ons anders deur die lewe loop. Uit dankbaarheid sal ons die mense met wie ons elke dag in aanraking kom, anders hanteer.

Hulle sal dit agterkom en ook so wil wees. So kan ons dan werklik ’n impak in ander mense se lewens hê.

En as jy vandag ’n stuk goed in jou lewe nodig het, gaan vra by die Een wat net goeie geskenke uitdeel. Hy weet presies wat jy nou nodig het.

Teks
Jakobus 1:12-18

Om oor na te dink
Hoe sien jy die swaar in jou lewe?
Hoe sien jy God in jou lewe?
Waarvoor kan jy dankbaar wees?

Gebed
Vader, hoe goed is U nie! Alles wat ek is, alles wat ek het, al die goeie wat elke dag oor my stort, kom van U. U is die grootste, liefdevolste God wat daar is. Aan U kom alle eer toe! In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek