God se Woord in vandag se woorde

Alles is betaal


Onesimus het goed drooggemaak. Hy het gedros. Hy het gesteel. Sy dade het hom in die tronk laat opeindig en eintlik wil ’n mens sê, goed so. As jy stout is, moet jy jou pak soos ’n man vat.

Gelukkig ontferm Paulus hom oor Onesimus daar in die tronk. Hy gee baie van sy tyd vir hom. Hy praat baie met hom. Hy deel met hom die evangelie en deur die werking van die Heilige Gees kom Onesimus tot bekering.

Op ’n manier kan ’n mens dink dat Paulus se werk nou klaar is. Hy het mos sy deel gedoen om Onesimus na die Here te lei. Paulus sit in ieder geval in die tronk. Wat kan hy nou meer vir hom doen?

Paulus dink nie so nie. Hy probeer Onesimus se pad wat voorlê, so plat as moontlik maak. Hy skryf die brief aan sy vriend, wat ook Onesimus se baas is. Paulus ken vir Filemon en het heel waarskynlik verwag dat Filemon vir Onesimus ’n moeilike tyd gaan gee, wat Onesimus natuurlik verdien. Onesimus het immers sy baas erg teleurgestel.

Paulus sien dit egter anders. Wanneer iemand tot inkeer gekom en sy sondes bely het, is dit ons verantwoordelikheid om deur dieselfde bril as God te kyk. Deur Sy bril is die sonde van die verlede nie meer deel van die prentjie nie. Dis nie so maklik vir ons nie, daarom Paulus se pleidooi:

18As hy vroeër iets daar by jou gevat het, of as hy jou nog enige geld skuld, moet jy dit maar op my rekening sit. 19Daarom skryf ek, Paulus, hier groot en duidelik: “EK SAL ALLES BETAAL.”

Paulus kon homself nie keer nie. Hy wou Onesimus help op die nuwe pad wat hy moes loop. Hy sal nie ’n steen onaangeraak los nie. Enige tou wat hy kan trek, sal hy aangryp. Enige brief wat hy kan skryf, sal hy skryf. Omdat hy werklik omgee. Omdat hy werklik lief het. Dis sy styl.

Dis ook Jesus se styl. Hy het in ons plek die skuld wat ons by God opgegaar het, betaal. Die sondes wat ons gedoen het, doen en nog gaan doen, gaar ’n klomp straf op. Ons boekies is vol geskryf en ons moet daarvoor pak vat. Die pak is die ewige vuur. Die dood.

Dis hoe dit werk. As jy dros en steel, is jy in die skuld by jou baas en die pakkie staan tussen jou en jou baas. Dit kan eers uit die weg geruim word as jy dit betaal het. Dis die enigste manier.

Tog is dit nie werklik die enigste manier hoe skuld uit die weg geruim kan word nie. Jy kan met ’n ou soos Paulus bevriend raak, wat in groot en vet letters sal skree: “Ek sal alles betaal!”.

Ons vriend en broer, Jesus, het presies dieselfde gesê en gedoen: “Al die boeke vol skuld wat julle by my Pa bymekaargemaak het, sal ek betaal. Ja, EK SAL ALLES BETAAL!”.

Dit noem ’n mens genade!

Teks
Filemon 1:15-20

Om oor na te dink
Watter pakkies dra jy nog?
Kan jy dit oorgee vir Jesus?
Glo jy dat Hy alles betaal het?

Gebed
Vader, soms sukkel ek om te glo dat U regtig al my skuld by God betaal het. Maar baie dankie daarvoor. Ek sou dit vir seker nie op my eie kon betaal nie. Help my om nou as ’n vry mens die wêreld in te gaan en ook ander se las te help dra. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek