God se Woord in vandag se woorde

Almagtig vs liefdevolle God – Romeine 9:14-29


almagtig vs liefdevolleKliek hier om die teks te lees: Romeine 9:14-29

Ek was erg vies vir God toe my meisie met wie ek op trou gestaan het in ’n motorongeluk oorlede is. Ek kon dit glad nie verstaan nie. Ek was verward. Ek kon nie glo dat ’n liefdevolle God so met my maak nie. Vir maande wou ek eintlik nie met God praat nie.

Ek het geworstel met die vraag: hoe is God betrokke by die nood in die wêreld? Hulle noem dit die Teodicea vraagstuk waar God se liefdevolheid en sy almagtigheid teenoor mekaar te staan kom. Die een groep sê God is liefdevol en kan nie die oorsprong of die organiseerder van die seer wees nie. Hier word die liefdevolheid van God so dik onderstreep dat die almag van God in die hek duik. Volgens daardie oortuiging was God nie betrokke by die reël van my meisie se dood nie. Dit was iets of iemand anders.

Aan die ander kant is daar die groep wat God se almagtigheid eerste stel. Hulle sê dat God almagtig is. Niks in die wêreld gebeur sonder sy betrokkenheid of goedkeuring nie. Daarom is dit Hy wat hoof was van die beplanningsvergadering van my meisie se dood. Dit klink nie lekker nie. En die prentjie van ’n God wat ons verskriklik lief het vlieg by die deur uit.

Ons weet al van ons Kinderbybel dae dat God almagtig en liefdevol is. Ek glo dit met my hele hart. Nou hoe moet ek dan die almagtigheid en die liefdevolheid van God in een kamp verstaan? As ek die een kies, kies ek mos noodwendig teen die ander een. Of hoe?

Na agt maande van baie baklei en worstel het ek vir die eerste keer rustig geword en kon ek die strydbyle neersit. Ek het tot die besef gekom dat God op een slag liefdevol EN almagtig is en alhoewel dit vir my as mens nie moontlik is nie, is God tog so. Hieruit het ek besef dat daar dinge van God is wat ek nie ten volle kan en mag verstaan nie, want as ek alles van God verstaan het, was ek soos God. Dan was ek gelyk aan God, wat beteken dat ek dan ook god word.

Vir God om God te bly moet daar tog dinge wees wat ons nie van Hom verstaan nie. Daar moet ’n stuk misterieusheid wees waarop ek nooit my vinger kan lê nie. Uit hierdie hele gestoei het ek toe nooit die antwoord gekry oor hoe God betrokke is by die seer van die wêreld nie. Wat ek wel besef het, is dat my God eenvoudig baie groter is as wat ek kan verstaan. Hy is altyd in beheer en op ’n onverstaanbare manier laat Hy op die ou end alles te goede meewerk.

20Hoor hier, wie dink jy is jy dat jy met God stry en Hom terugantwoord? Jy is maar net soos ’n stuk klei in die pottebakker se hand. Hoe kan jy vir Hom wat jou gemaak het, sê: “Waarom het U my so gemaak?” 21Die pottebakker kan mos met sy klei maak wat hy wil. Uit dieselfde stuk klei kan hy iets maak waaroor hy baie bly is…

Dit is nie altyd maklik om rustig terug te sit en net te aanvaar nie. Daar kom tye wat ’n mens wil weet. Tye wat ’n mens duidelikheid wil hê oor hoekom al die curve balls so op gereelde tye na ons kant toe aangevlieg kom. Maar soms moet jy al die vrae in jou sak steek sê: Here, U is die pottebakker. U weet hoe die pot moet lyk. U bak die klei in die oond van my swaar. Ek sal ophou “bak-klei”. U weet die beste.

Om oor na te dink

Verstaan jy God?

Het jy antwoorde?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek