God se Woord in vandag se woorde

Almal kan weer saam met Jesus opstaan


1 Korintiërs 15:12-28

Soms kom daar tye wanneer ’n mens jouself nie te ernstig moet opneem nie. Soms doen ons dinge wat hier van die kant af vir ander net nie lekker lyk nie. Die probleem is dat baie mense dit raaksien, maar net nie die guts het om vir jou te sê dat jy eintlik heeltemal van die pad af is nie.

Paulus is egter nie bang nie. Inteendeel, hy het die passie om ander te help en kan nie ophou om reguit hieroor te praat nie. Dit gaan sy kop te bowe dat mense nie wil glo nie. Hoe stupid is dit nie? Die boodskap van God is dan so eenvoudig. Dit het alles hier voor julle oë afgespeel. Hoe kry julle dit reg om nie daarin te glo nie? 12Daar is tog geen twyfel oor die boodskap nie: Jesus was dood en is weer lewendig gemaak. Hoe is dit dan nog moontlik dat party van julle kan twyfel en sê dat God nie mense wat dood is lewendig sal maak nie?

Hierdie ouens het presies geweet wat God reggekry het. Dit is nie maar net stories dat Jesus opgestaan het en aan ’n klomp mense verskyn het nie. Die mense kon eenvoudig nie stil raak oor die feit dat hulle weer vir Jesus gesien het nie en tog is daar sommige wat dit eenvoudig net nie kon glo nie.

Ek verstaan dit net so min dat daar sommige mense is wat net nie kan of wil glo nie. Hulle maak ’n keuse om God se verlossingsboodskap weg te klap en dit af te maak as bog. Dit is sulke tye wanneer ek my mond wil hou en hulle los om maar op hulle pad aan te foeter. Maar Paulus doen dit nie. Jy sien, hy wat self in Jesus vasgeloop het en presies verstaan waaroor dit gaan, kan eenvoudig net nie stilbly nie.

Daarom gee hy weer ’n opsomming van wat presies gebeur het: 21Dit werk so: dit was ’n mens, Adam, se skuld dat die dood nou elkeen van ons tref. Maar dit is ook ’n mens, Christus, wat daarvoor gesorg het dat mense wat dood is weer lewendig gemaak kan word. 22Omdat ons mense soos Adam is, het die dood deel van ons elkeen se bestaan geword, net soos dit deel van sy bestaan was. Net so, deur Christus se mense te wees sal elkeen lewendig gemaak word soos Hy. 23Elkeen sal sy beurt kry. Christus het eerste opgestaan en so die pad vir ons ander oopgemaak. Wanneer Christus weer kom, sal al die mense wat aan Hom behoort ook opstaan.

Ai, my mens. Hoekom wil jy nie die wonderlike boodskap kans gee om in jou lewe te ontplof nie? Jy kan mos nie aangaan en lewe asof God nie bestaan nie! Jy kan mos nie ’n streep deur Jesus se verlossingsdaad trek en lewe asof die lewe een of ander tyd net gaan ophou gebeur en dat daar niks hierna is nie!

Eintlik kry ek sommer ’n pyn in my hart om te besef dat baie mense dit nie gaan maak nie. Ek besef ewe skielik dat daar mense is met wie ek elke dag in aanraking kom wat nie die boodskap deel maak van hulle bestaan nie. Ek besef dat hulle lewe ’n einde het, hier op aarde en hierna.

Ek leer weer by Paulus. Moenie ophou om oor Jesus te praat nie. Hou aan en aan en hoop dat die lig een of ander tyd by hulle sal aangaan. Bly glo dat daar in elke mens ’n knoppie vir glo is en dat hy of sy dit een of ander tyd kan druk. Bly hoop dat die ander saam sal glo. Bly hoop dat die lig sal opkom en dat hulle eendag ook saam met ons sal opstaan.

Om oor na te dink

Staan jy eendag saam met Jesus op?

Wie om jou gaan nie?

Sal jy die boodskap aan hulle gaan oordra?

Gebed

Ons Vader in die hemel, dankie dat U Adam se foute reggestel het. Dankie dat almal wat glo eendag weer saam met Jesus sal opstaan. Help my om dit vir ander te vertel. Help my dat ek nie sal stilbly nie. Maak my sensitief dat ek sal sien aan wie ek moet bedien. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek