God se Woord in vandag se woorde

Almal wel geroepe


Baie mense steek vas by die idee dat God sommige mense uitverkies of geroep het om Sy kinders te wees, wat natuurlik impliseer dat sommiges nie uitverkies is nie. Soos duidelik hier in Hebreërs 9:15 staan: Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.

Is God dan ’n God wat net sekere mense uitnooi om vir ewig by Hom te kom bly? Deur die jare het die teoloë en slim omies baie tou getrek oor hoe die een werk. Soos gewoonlik is daar twee kante en ook soos gewoonlik, wanneer dit by die redenasies kom, verloor die ouens my gou langs die pad.

Op my eenvoudige manier verstaan ek dit soos volg: God is ’n liefdevolle God. ’n God wat vir die grootste sondaar Sy Seun stuur om Sy lewe op te offer, sodat hierdie ou en al die ander hordes van ons nie self die straf van ons sondes hoef te dra nie. Ons kan sonder enige stukkie werk, die deur van die hemel oopstoot en instap.

Dis die prentjie wat ek van God het. Die Een wat oorloop en oorloop en oorloop van liefde. Binne hierdie prentjie pas daar nie ’n God wat dit net vir sekeres doen en vir ander nie. God sê nie: Nee, jammer. Jy is nie die regte kleur of praat nie ’n regte taal of kom uit verkeerde agtergrond nie. Nee! God se hemelse deur staan vir alle sondaars oop.

Ek vermoed die uitverkorenes het meer te doen met die mense wat die keuse maak. Wanneer ek die dag vir God gekies het, is ek ook deur God verkies. Jy sien, ons en God se tyd-ruimte werk anders. En wanneer ons met ons verlede-hede-en-toekoms-model probeer om God se multidimensionele tyd te verstaan, wat soveel meer is as ons verlede, hede en toekoms, skiet ons te kort.

Dan steek ons vas by die gewonder of God net sommige uitverkies het. En in die vorige paragrawe het ons reeds gesê dat dit nie God se styl is nie. God se hart is veel groter as ’n taxi s’n en daar is altyd plek vir nog.

Ek besef maar net weer dat God veel groter as ek is en dat my verstaan van Hom soms in ’n doodloopstraat gaan eindig. En dit is OK. Nee, dit is eintlik nodig, want dan val ek weer neer op my knieë en loof die magtige God wat oorloop van liefde en so groot is dat ons mensies te klein is om alles te verstaan.

Soms kan ons op die verkeerde dinge fokus. Ons spandeer tyd om dinge te probeer ontrafel wat nie eintlik nodig is vir ons om oor te sweet nie. Kyk eerder na dit wat regtig saak maak. Die besonderse goeie nuus in die vers is die middelpunt.

Jesus is dood, sodat ek en jy wat eintlik moes sterf vir al die strooi wat ons al aangevang het, regtig kan lewe. Ons ontvang nou die lewe, in plaas van die dood. Kom ons sit ons energie daarin om die genade te gaan uitleef in die wêreld daar buite. Daar is nog soveel geroepenes daar buite wat uitmis op hierdie goeie nuus omdat ons ons energie op verkeerde plekke uitleef.

Kom ons stap die wêreld in en orals waar ons gaan, gaan leef ons Jesus vir al die ander uitverkorenes.

Teks
Hebreërs 9:15-22

Om oor na te dink
Glo jy dat jy uitverkore is om na die hemel te gaan?
Leef jy dit uit na die mense om jou?
Met wie moet jy gaan praat oor sy of haar status in God?

Gebed
Ons Vader, dankie dat Jesus vir my aan die kruis gesterf het. Dankie dat ek eendag die hemel kan instap. Dankie dat U my gekies het. Help my om dit te gaan leef in die wêreld daar buite. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek