God se Woord in vandag se woorde

Ander se hand neem


Die lewesomstandighede in Paulus se tyd was nie baie rooskleurig nie. Hyself was in die tronk. Hulle Messias is ook nie meer in hulle midde nie en elke persoon wat in Jesus geglo het se lewe was in gevaar. Nou nie eintlik ’n rooskleurige tyd om in te lewe nie.

Tog het die Christene mekaar ondersteun en mekaar moed ingepraat. Daarom stuur Paulus vir Tigikus na hulle toe: 8Hy sal ook vir julle sê hoe dit hier gaan. Hy sal julle ook sommer moed kan inpraat.

Om mense moed in te praat was vir seker een van Tigikus se gawes. Hy kon die droom raaksien en deur die moeilike omstandighede beur. Hy kon ander aanmoedig en hulle hand neem en deur die swaar tye trek. Op ’n manier kon hy die swaar tye draaglik maak en die mense se hoop weer laat opflikker. Soos ’n ossewa drywer wat sy osse stadig, gedienstig en gedwee deur die opdraendes van die lewe laat beur.

Vandag is dit nie veel anders nie. Dit druk. Dit lyk nie lekker om ons nie. Soms lyk alles hopeloos. Ja, die mense met die mag in die hand mors en dit maak mens moedeloos.

Soos Chrissie (skuilnaam):

Ek is ’n enkelma. My dogter het matriek geskryf en baie mooi geslaag. Nou staan ek voor ’n berg – hoe gaan ons die berg wat voor ons lê oorkom? Hoe gaan ek die studiegeld betaal? My motor het bande nodig, my dogter moet gaan vir rylesse en lisensie … and the list goes on and on.

Of soos Riaan (skuilnaam):

Ek sit in ’n benarde posisie. My familie is verskeur en dit alles oor my pa se dinge van die verlede en dit gaan nie goed met enige van ons gesinne nie.

Dit gaan broekskeur met my finansies en ek moet nog universiteitsgelde betaal wat ek nie het nie. Ek voel so moedeloos, al weet ek dat God in beheer is en dat ek aan sy beloftes moet vashou. Een ding wat ek wel besef het, is dat ek hoogmoedig is. Ek het geglo dat ek en net ek my eie probleme kan oplos, al weet ek voor my siel dat ek dit vir God moet gee. 

En soos baie van ons vertel Christiaan (skuilnaam):

Dit is maandeinde en ek het nie geld om my assistant se salaris te betaal nie, want my kliënte het of wil my nie betaal nie.

Kom ons wees eerlik met mekaar en erken dat dit nie altyd maklik daar buite gaan nie. Een of ander tyd word daar ’n uitdaging na ons kant toe gegooi en dan weet ons nie hoe om dit te hanteer nie. Dit laat ons in sak en as sit met geen uitkoms in die oog nie.

Ek besef maar net al hoe meer dat ons mekaar se hande moet vat. Daar is tye wanneer ek ander deur die modder kan help en daar is tye wat ander my weer deur die modder moet help. Soms staan ons met hande vol hoop. Dan moet ons dit uitgee aan die mense om ons. Ander kere is dit weer hulle wat ’n stukkie hoop moet aangee as ek weer tussen die vloer en die politoer hang.

Laat Tigikus vir ons elkeen ’n voorbeeld wees. Kom ons maak soos hy en praat dié wat rondom ons is moed in. Kom ons trek en stoot mekaar. Kom ons tel mekaar se koppe op en kyk na Bo en glo daar is ’n God wat altyd daar is vir ons.

Teks

Kolossense 4:2-6

Om oor na te dink

Wie moet jy help met hoop?

Hoe gaan jy dit doen?

Wanneer?

Gebed

Vader, U woorde is vir ons opgeteken as voorbeeld oor hoe om te lewe. Help ons om te leer uit Tigikus se lewe en dit na te streef. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek