As jy gelukkig voel
Eintlik het ons so baie, al het ons nie baie nie. Eintlik gaan dit maklik, al staan ons moeilik op. Eintlik is ons so gelukkig, al loop die trane al te gereeld.
Martin (skuilnaam) gee ons ’n kykie in sy lewe:
Ben, ek wil net ietsie met jou deel. Mens weet nie party dae hoe gelukkig ons is om elke dag wakker te word en jou geliefdes, jou gesin, is nog by jou nie.
Op skool was my broer my held gewees. Hy het drie jaar in ’n ry in die Cravenweek gespeel, maar ’n ongeluk het hom van ons weggeruk. My pa het in dieselfde ongeluk so seergekry, dat hy nooit weer kon werk nie.
Nodeloos om te sê dat ek nooit ’n voertuig wou bestuur nie.
Die lewe het aangegaan en ek is getroud. Ek het twee wonderlike seuns, waarvan die een self verlede jaar by die Cravenweek uitgedraf het.
My seun wou een middag saam met vriende ’n draai gaan ry, maar sy motorfiets was stukkend. Hy kom vra my toe om myne te gebruik.
Hoe vinnig kan ’n mens se lewe nie inmekaarsak na een oproep nie? Dis die oproep dat my seun in ’n ongeluk was! Dadelik het ek gewonder hoe seer het hy gekry? Lewe hy nog?
Dit is ’n toestand wat ek vir niemand op aarde toewens nie. Die skok is so groot, jy weet nie wat om te doen nie.
Toe ek my seun nie kon kry nie en niemand vir my kon sê waar hy is nie, was ek rasend. Toe ek die bloed op die motorfiets sien, was dit eers erg. Dit is my kind se bloed en waar is hy?!
Tussen alles deur het my seun my motorfiets teruggestoot en netjies op die gras kom staanmaak. Ek het altyd vir hom so gepreek oor die motorfiets en dat dit tog nie moet iets oorkom nie. Nou maak dit niks saak nie. Net my seun se lewe.
Vol bloed het iemand hom langs die straat opgetel en op die ou end hoor ons hy is in die hospitaal.
Ons het soontoe gejaag en hom daar sien lê. Ek wou net huil van vreugde. My kind leef! Die pyn sal hy ongelukkig alleen moet dra, maar ek sal help waar ek kan om dit makliker te maak.
Hy het dadelik gesê hy is jammer oor die bike. Op daardie stadium wou ek net huil en hom vasgryp en sê, “Dis niks nie my kind. Jy weet mos, jy is my alles!”.
Ben, ons is so gelukkig, so geseënd. Ons moet moeite maak met mekaar.
Ons moet ons seëninge tel. Ons moet besef hoe bevoorreg ons is. Ja, te midde van die swaar, kan ons gelukkig wees en 13… as iemand goed of gelukkig voel, moet hy liedere sing wat vertel hoe goed God vir hom is.
Teks
Jakobus 5:13-20
Om oor na te dink
Waaroor kan jy dankbaar wees?
Bring dit geluk?
Loof jy die Here daarvoor?
Gebed
Vader, ek besef ek is te min dankbaar. Ek weet dat ek eintlik so baie het om oor gelukkig en goed te voel. Aan U kom die eer toe. In Jesus se Naam. Amen.