God se Woord in vandag se woorde

As wysheid opdaag


Daar word die storie vertel van ’n vrou wat eendag deur die berge getoer het en in ’n stroompie ’n baie waardevolle steen opgetel het. Die volgende dag het daar ’n man, wat ook op reis was, by haar aangekom. Hy was tot die dood toe honger. Die wyse vrou maak toe haar sak oop en deel die kos met hom.

Die honger reisiger sien toe die baie waardevolle steen en vra die vrou om dit vir hom te gee. Sonder aarseling gee sy dit net so vir hom. Die reisiger vertrek met ’n lied in sy hart oor hierdie groot meevaller. Hy het geweet dat hierdie steen vir hom genoeg sal inbring om vir die res van sy lewe baie lekker te leef.

Maar ’n paar dae later daag hy weer by die vrou op om die steen vir haar terug te bring:

“Ek het baie gedink oor jou wat so ’n kosbare steen sommer net so vir my gegee het. Ek weet hoeveel die steen werd is en wat dit vir my kan bring. Ek gee dit vir jou terug in die hoop dat jy vir my iets wat meer werd is, kan gee. Gee vir my dit wat binne-in jou is wat dit vir jou moontlik maak om so ’n waardevolle steen sommer net so weg te gee …”

Die vrou het baie wysheid en ons elkeen sal ons eie rede hê hoekom ons dink die vrou wys is. Sommige sal dalk sê sy is wys, want sy weet geld is nie alles nie. Sommige kan dalk sê sy weet dat so ’n waardevolle steen haar lewe in gevaar kan stel. Iemand kan haar dalk doodmaak en wat help dit dan om baie rykdom te hê. Sommige sal dalk sê dat haar wysheid daarin lê dat sy die armoede van ’n ander raaksien en gedink het hy het dit meer nodig as sy.

’n Eenvoudige verhaal wat wysheid stukkie vir stukkie vir ons oopbreek. Maar snaaks genoeg, kry ons ook ’n stukkie wysheid uit die man wat nie bang is om by ander goed te vra nie. Hy was so in sy skik met die rykdom wat in sy skoot geval het. Ek kan die huppel in sy stap sien toe hy met sy maag vol daar by die wyse tannie vort is.

Maar gelukkig het wysheid hom nie oorgeslaan nie. Vir ’n paar dae lank smokkel die feit dat die tannie die steen sommerso weggee met hom. Hy besef dat daar iets meer werd is as die klomp waarde van die steen. Die tannie weet dit. Ja, sy is wys genoeg en daarom kan sy dit net so weggee. Nou is die ou wys genoeg om te besef daar is iets meer en hy soek juis hiervan.

Elke dag het ons by die kruispaaie van die lewe wysheid nodig. Ons het eintlik oë nodig wat verby dit wat hier voor ons lê, kyk en die groter prentjie raaksien. Elke dag moet ons besluite neem en dit is nie so maklik om God se prentjie vir ons raak te sien nie.

So baie keer het ons al verkeerd gekies omdat wysheid nie sy opwagting gou genoeg gemaak het nie. Dis mos altyd eers nadat ons die verkeerde besluite geneem het en die gevolge orals op die vloer lê, dat wysheid in retrospeksie sy opwagting maak.

Ons moet versterking inkry. 12… God laat ons met wysheid en opregtheid leef. Ja, God bring wysheid. Hy sien die volle prentjie raak.

Dalk moet ons net meer en meer by Hom gaan sit om sy prentjie raak te sien en so met wysheid gedoop te word.

Teks
Tit 2:11-14

Om oor na te dink
Hoe lyk jou wysheid?
Hoe lyk jou tyd by God?
Hoe kan jy meer by God wysheid kry?

Gebed
Vader, ek besef al meer hoe nodig ek U het! Help my om so naby aan U te leef, dat ek sal begin dink soos U dink en doen soos U doen. Ek vra dit in Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek