God se Woord in vandag se woorde

Bakhand agter die oor om te hoor


So baie keer loop ek my in ’n doodloopstraat vas. Soveel keer kom ek bebloed by die huis aan. Soveel keer het mense om my al seergekry oor dinge wat ek gesê en gedoen het, omdat ek nie my ore regop laat staan het vir God se fluisterstem nie.

Ek wonder of dit ook al met jou gebeur het?

Daar is mense met die gawe om God in ’n hoorbare stem te hoor. Hulle is op ’n ander frekwensie ingeskakel.

Amper soos honde. Honde hoor baie beter as mense, want hulle is by magte om baie hoër frekwensies waar te neem. Honde kan hulle ore in die rigting van die aankomende klank beweeg, amper soos wat ‘n oupa sy hand bak laat staan agter sy oor om beter te hoor.

Ek het egter nie in dié gawe-ry gestaan nie. Daarom is dit nie vir my altyd maklik om te weet wat ek moet sê, wat ek moet doen en hoe ek deur die lewe moet loop soos wat God wil hê ek dit moet doen nie.

Ek het vir ons Vader gesê ek sal elke week ’n preek op ons YouTube-kanaal preek, as Hy vir my die preek gee. Dis mos nou ’n mooi gebaar, het ek gedink. En tog is dit nie so maklik om elke keer die preek te “hoor” wat ek die week moet preek nie.

Dit bring baie keer spanning en ’n mens raak onseker of jy dit reg “hoor”. Daarom dat ek elke keer as ek ’n preek moet gee, bo-aan neerskryf: “Nie my woorde nie, maar U Woord.”.

Dan hoop en bid ek dat God sal ingryp en my sal stilmaak as ek die pot mis preek.

Daarom is die paar woorde sowaar: 19My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister …

Ja, dit geld vir elke mens met wie ons in aanraking kom, maar soveel te meer met God. Ons moet gewillig wees om te luister na God se raad. Hy wil ons help. Hy wil ons keer om nie teen onsself vas te loop nie. Hy wil ons lei om reg te doen waar ons gaan.

Ons moet tyd maak om Sy aanwysings in ons lewens waar te neem en die grootste spreekbuis hiervoor, is Sy Woord. Die Bybel is God se woorde, Sy rigtingwysers, Sy lewensplan, Sy ontferming, Sy beskerming, Sy leiding, Sy omgee vir ons daaglikse lewe.

God praat deur Sy Woord met elkeen van Sy kinders, vandag nog. Maar hoe kan ons God se woorde hoor, as ons nie toelaat dat Sy woorde deur ons ore en oë ons binnedring nie?

Dis ’n eenvoudige som vir ons wat God nie in ’n hoorbare stem hoor nie. Maak Sy Woord oop en luister na Sy stem. Dan sal ons Sy wil hoor vir ons dag se loop. Daar sal ons bakhand agter die ore staan en presies weet hoe verder.

Teks
Jakobus 1:19-27

Om oor na te dink
Hoor jy vir God?
Hoeveel tyd spandeer jy in Sy Woord?
Kan jy daagliks ’n afspraak maak?

Gebed
Vader, dis nie kernfisika die nie. Ek weet dit eintlik. Hoe meer tyd ek in U Woord woel, hoe meer gaan ek U stem hoor om my deur die dag te help. Help my om tyd te maak. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek