Bangheid vir die dood verdwyn in die mis
In die vorige gedeelte maak ek dalk ietwat van ’n wilde stelling. Om so bietjie skrikkerig te wees vir die issue van ’n nuwe liggaam is seker heel normaal, want ons is van nature bang vir die vreemde. Nee, ons weet mos met sekerheid dat ons na die hemel gaan, maar ons weet nie presies wat alles daar gaan gebeur nie en onsekerheid bring so ’n bietjie bangheid.
Ja, onsekerheid bring altyd so ’n tikkie spanning. Ons wil graag presies weet wat alles met ons gaan gebeur. Filmmakers weet dit ook en daarom bou hulle spanning sodat ons nie weet wat om die volgende draai wag nie. Tog kondig die musiek dit met elke slag aan en jy weet hier kom ’n ding. Jou hard klop vinniger en wanneer die bom bars, glip daar ’n ligte gilletjie uit en jy sit stokstyf bo-op jou stoel. Net omdat iets onverwags om die draai gestaan en wag het.
Daarom kan ons maar so bietjie bang wees vir die lewe na die dood. Nee, nie vir die lewe na die dood nie, maar vir die transisie, die geliefdes agterlaat en die oorstap. Gelukkig kom gee Paulus so ’n klein stukkie troos oor die dood, want dit bly aan die krap: 54Wanneer dit alles gebeur, sal dit presies wees soos die Skrif gesê het dit gaan wees: “Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar. 55“Daar is net mooi niks oor van die dood se mag nie. Sal die dood ons nog kan seermaak? Nee, vir seker nie.”
In die weermag was ek in die Meg infanterie, wat beteken dat ons in ’n Ratel oorlog gemaak het. Dit was ’n wonderlike voertuig, so sterk soos ’n bees en dit kon amper op enige terrein vinnig ry. Dit was ’n staalhuis op wiele en ons het baie veilig gevoel. Die staal sou alles keer, of so het ons gedink. Totdat ons eendag verby ’n ratel gery het wat deur ’n RPG-7 anti-tenk vuurpylgedrewe granaat getref is. ’n Klein gaatjie aan die kant, maar almal binne-in is dood. Die res van die tyd daar bo aan die grens het ek maar erg onveilig gevoel, want sê nou maar net ons ry verby iemand met ’n RPG-7 in die hand.
Wanneer dit egter by die geloofsake kom, by die sake van God, is daar ’n waarborg dat die vyand reeds oorwin is. Die mag van die vyand is gebreek. Die gewere se koeëls is uitgehaal, op ’n hoop gegooi en alles vernietig. Die RPG-7 se anti-tenk vuurpyle se vuur is heeltemal geblus. Die dood se angel is getrek, want Jesus het die geveg gewen: 57… ons het baie waarvoor ons vir God baie dankie kan sê. Jesus Christus het gewen en omdat Hy gewen het, het God ons saam met Hom wenners gemaak.
Ons is wenners, omdat ons ouer broer, Jesus gewen het. Ons kan in sy fees deel en veilig voel. Ja, al is daar ’n stukkie ongemak oor die dood, omdat ons nie presies verstaan wat alles daar gaan gebeur nie, kan ons tog lekker gaan slaap. Ons kan veilig deur die strate van die wêreld loop en weet, ons is ge-cover, want die dood speel nie meer ’n rol nie.
Kom ons leef soos wenners. Kom ons stap deur die wêreld en vertel vir die mense wat so bang is of wat lewe asof alles hier tot ’n einde gaan kom, dat ons deel is van ’n wenspan. Kom ons leef as oorwinnaars en gaan maak ’n verskil.
Om oor na te dink
Is jy effe bang vir die dood?
Glo jy dat Jesus klaar die dood oorwin het?
Gebed
Here, ek is so dankbaar vir wat U alles vir my gedoen het! Ek is so dankbaar dat U die dood oorwin het en dat ons nou saam met U wenners is. Vergewe my waar ek soms nog ’n bietjie bang is vir dit wat hierna gaan gebeur. Ek wil lewe soos ’n oorwinnaar en werklik ’n verskil maak. Amen