God se Woord in vandag se woorde

Begeertes laat my dinge opoffer


Ek is mal oor vleis. Net verlede week word ek ge-bless met ’n volle lam uit die Karoo. My vriend sê ek het die kleiner ene gekry, nogal 22 kilogram! Elke tjoppie se vetjie seker so 10 millimeter. As hy op die vuur lê, moet jy keer of die vlamme lek te sterk na die vet. My mond water sommer nou en ek’s lus om vroeg in die môre die vuur te gaan aansteek.

Ek sal nogal baie opoffer vir ’n lekker stukkie vleis. Jy kan maar al die slaai hou en die groente ook, as ek net nog ’n tjoppie kan kry.

Esau het baie opgeoffer vir een bord kos – sy geboortereg. As oudste seun het hy in die lyn gestaan om al die beloftes wat aan sy pa en oupa gemaak is, vorentoe te dra. Die beloftes van die wonderlike paradys in Kanaän, Jesus die Messias wat die hele mensdom gaan kom verlos deur vir hulle sondes aan ’n kruis te sterf en nog vele meer, stoot Esau weg. En dit vir ’n bord kos.

Hoekom sou iemand al die beloftes verruil vir ’n bord kos? Hier lê die antwoord: 16Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het. (1933/1953-vertaling)

Esau se lewe vertel ’n storie van wat regtig in sy hart aangegaan het. Hy het ’n hele paar vroumense gehad en hy het losbandig gelewe. Ons kan seker sê dat hy soos ’n vark in sonde gerol het. Maar die ergste is dat hy sy rug op God gedraai het.

Die netto-effek van ’n lewe op aarde sonder God, is dat jy dom keuses maak, soos om jou eerste reg, al die seën en beloftes, te verkwansel vir een skottel kos.

Soms maak ons almal keuses wat nie so vars is nie en dan sit ons in tamatiestraat. Soos JP vertel:

Ek staan naak in sonde weens drankmisbruik en ek was oor die lyn om my gesin te verloor.

Ek moet erken, my vrou en kinders is my alles. My wonderlike vrou het besluit om my ’n kans te gee om myself te bewys as die pa en man wat ek in die huwelik moet wees.

Vanoggend het my vrou SMS’e gekry op my foon van ‘n nommer waarvan ek nie eers die nommer ken nie. Ek erken ek was ontrou aan my vrou baie jare terug.

My vrou het my vanoggend oor die boodskappe gekonfronteer, maar sy was nie geskok of hartseer of niks nie. Dit en die feit dat ek my kinders by die skool moes aflaai en die hartseer in hulle oë gesien het, was vir my baie erg.

Ek probeer rêrig hard om ons bymekaar te hou, terug te gaan op God se weg en ook sodat ons kan terugkyk en sê ons is deur hel, maar is hier ter wille van God.

Hoe maak ek nou?

Kom ons leer by Esau en JP en hou styf vas aan God, sodat ons besluite nie verwoesting saai nie. Kom ons laat nie toe dat die begeertes van die lewe ons die dinge laat opoffer wat regtig saak maak nie.

Teks
Hebreërs 12:12-17

Om oor na te dink
Waar mis jy God?
Waar moet jy Hom innooi?
Waar het jy hulp nodig?

Gebed
Vader, dis sulke tye wat ek nie lekker weet hoe en wat ek moet bid nie. Sien asseblief my hart raak. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek