Beklink met ’n handdruk
Die hoop geld wat ingesamel is moes nou na hulle bestemming geneem word. Daar word met groot versigtigheid omgegaan met die geld. Paulus-hulle trek al die stoppe uit om seker te maak dat die geld veilig daar aankom en dat niemand hulle kan verdink dat hulle hulle vingers in die geld gedruk het nie. 19… Deur hierdie liefdeswerk wil ons die Here se Naam grootmaak. Dis ons enigste doel. Daarom doen ons ons bes om die geld reg te administreer sodat niemand ons goeie naam in twyfel trek nie. 20Tot dusver het ons al ’n groot bedrag geld vir Jerusalem ingesamel. Ons kan nie bekostig dat iemand ons nou daarvan verdink dat ons hierdie geld misbruik wat die gelowiges aan ons toevertrou het nie.
Amper soos ’n hedendaagse geld sekuriteitsmaatskappy word wagte aangestel om saam met Titus te gaan om die geld in die regte hande oor te gee. Hulle vermoed dit was Lukas en Apollos wat as wagte saamgegaan het.
Om seker te maak dat die mense nie moet twyfel of die hele kissie geld daar gaan uitkom nie, gee hy vinnig ’n getuigskrif van die twee “wagte”. Van Lukas sê hy: 18Ek stuur nog iemand saam met Titus na julle toe. Hy is baie bekend in al die gemeentes omdat hy so hard werk in diens van die evangelie. En van Apollos die volgende: 22Daarom stuur ons nog ’n ander broer saam met Titus na julle toe. Hy het al baie kere bewys dat hy betroubaar is. Niemand twyfel oor sy goeie naam nie. Hy wil julle ook graag kom help.
En dan die getuigskrif van die twee saam: 23… Die twee broers wat saam met hom na julle toe kom, is verteenwoordigers van die verskillende gemeentes. Hulle almal glo in Christus. Hulle weerkaats ook sy heerlikheid.
Sjoe, dis ’n goeie getuienis van die manne en vir seker genoeg om die mense rustig te maak dat al die geld by die arm mense in Jerusalem sal uitkom.
Maar ongelukkig is dit nie meer vandag die geval nie. So baie keer het mense daar by die fabriek ingestap en in die Naam van die Here met ons besigheid gedoen. Hoeveel keer was dit juis hierdie jafels wat ons ’n rat voor die oë gedraai het en waar ons hope geld verloor het. Later het ons besluit om juis die ouens wat met die Bybels onder die arm inkom met groot vergrootglase deur te kyk voor ons waag om besigheid met hulle te doen.
Dit is sleg, maar dit is niemand anders as ons mense se skuld nie. Ons mense het so gemors dat niemand meer vir niemand vertrou nie. Deesdae moet ons dik dokumente met baie fyn skrif onderteken om seker te maak die een loop nie die ander in nie. My vriend vertel my van een van Suid-Afrika se grootste sakemanne wat die meeste van sy deals net met ’n handdruk beklink. Dit gee my hoendervleis, maar ongelukkig is dit so raar.
Kom ek en jy maak ’n punt daarvan om die een om te draai. Kom ons lewe soos Titus, Apollos en Lukas. Kom ons doen besigheid op so ’n manier dat God se Naam verheerlik sal word. Kom ons doen alles bo die tafel. Kom ons wys die wêreld hoe eerlik ’n mens kan wees, want dat sal God se Naam verheerlik word!
Teks
Om oor na te dink
Waar is daar dalk ’n grys area in jou lewe?
Waar moet jy pasop om nie onder die tafel te deal nie?
Hoe kan jy God se Naam verheerlik?
Gebed
Here, hier op aarde word daar met vertroue en eerlikheid gemors! Ons sukkel om mekaar te vertrou, want ons laat mekaar so dikwels in die steek. U verwag 100% eerlikheid van elke kind van U. Help ons om U nie teleur te stel nie. Amen