God se Woord in vandag se woorde

Bergklim, toue en vertroue


Daar word ’n storie vertel van ’n man wat gereeld ’n berg uitgeklim het. Hy was ’n gesoute bergklimmer en dit was vir hom so lekker om al die verskillende roetes te ontdek.

Eendag op ’n nuwe roete, stop hy om middagete te eet. Hy maak sy kospakkie oop en dank God vir die voorreg om op so ’n mooi plek sy innerlike te voed.

Die klimmer het ’n hom so verwonder aan die natuurskoon, dat hy ’n bietjie tred verloor het met die son wat begin sak het en dat ’n koue front aan die inbeweeg is. Die mis het hom oorval. Hy was later so gedisoriënteer, dat hy nie meer geweet het waar hy was en hoe nou gemaak om weer af te klim nie.

Hy het geglo dat God hom sou help om van die berg af te kom en het in die donkerte aangehou beur, al het hy soms nie geweet of hy op- of afklim nie.

En toe, terwyl hy strek om teen ’n krans uit te klim, verloor hy sy greep en hy begin val. Sy hele lewe snel by hom verby. Al die hoogtepunte, maar ook die laagtepunte. Die gesigte van al sy geliefdes stroom verby.

Hy besef skielik dat die einde naby is. Geen mens sal so ’n val ooit kan oorleef nie …

Meteens is daar ’n verskriklike pluk en ’n onmenslike pyn skiet uit sy heup op. Hy swaai heen en weer. Hy het vergeet van die tou wat om sy lyf was. Verheug, loof Hy die Heer wat hom gered het.

Terwyl hy hang, besef hy dat hy nie lank die mis en koue sal oorleef nie en roep kliphard uit: “O, God! Help my!”.

Uit die donker kom daar ’n diep stem: “Wat wil jy hê moet ek doen?”.

“Red my, asseblief!” skree die man.

God: “Vertrou jy my?”

Man: “Vir seker!”

God: “Sal jy presies doen soos ek vir jou sê?”

Man: “Vir seker!”

God: “Vertrou my dan en sny die tou.”

Die tou was die enigste ding wat die bergklimmer gekeer het om te val. Die man het begin huil en die tou net stywer vasgehou.

Die volgende dag het die soekgeselskap die klimmer se lewelose liggaam gevind, sy hande aan die tou vasgeklem, ’n meter van die grond af.

Mag die vers egter waar wees van ons: 39Ons is nie van die soort wat bang word en so ons plek by God verloor nie. Ons bly op Hom vertrou en sal saam met Hom vir ewig leef.

Teks
Hebreërs 10:31-39

Om oor na te dink
Vertrou jy vir God?
Vertrou jy rêrig vir God?
Vertrou jy rêrig vir God met alles in jou?

Gebed
Vader, soms wil ek ook nie die tou sny nie. Ek bely dit. Help my om nie aan die aardse redding vas te klou nie, maar net op U te vertrou. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek