God se Woord in vandag se woorde

Beter prentjies vir die wêreld


Mense kyk na mekaar. Mense kry gou ‘n persepsie oor wie ander mense is, as hulle net kyk na wat hulle doen en wat hulle sê. Reg of verkeerd, mense kry ’n prentjie van ander mense, al maak hulle nie eens hulle monde oop nie.

Vat nou maar die groot sportaanhangers. As ’n mens so ‘n bietjie van sokker weet, weet jy as die rooi vlaggies wapper, is dit Man United-aanhangers wat so op en af spring. As jy daar in die noorde agter ’n ligblou bakkie ry en daar hang ’n stel goetertjies agter aan die hak, weet jy vir watter rugbyspan die ou speel.

Met nie een van hulle het jy ’n woord gerep nie, maar jy weet eintlik baie van hom of haar.

Christene word ook op en af gekyk. Mense maak ’n opsomming van ons en sal gou weet of ons, om hulle woorde te gebruik, ’n kerkmens is of nie. Sonder om ’n woord met ons te sprak.

Die vraag wat ons moet vra, is of ons die regte dinge vir hulle gee om ’n mooi prentjie te bou. Leef ons God se Woord daar waar ons in die lewe met ander skouers skuur reg uit of maak ons droog? Is die volgende stelling van ons doen en late waar: 5…Dan sal God se Woord nie bespotlik gemaak word nie.

Ek kry so ’n rilling oor my lyf oor kere wat ek dalk ’n lelike of vals prentjie van God se Woord daar buite in die wêreld geleef het en mense nou vir God se Woord lag …

Ek vermoed ons almal het al so-effe skeef getrap. Dis menslik en dit help nie nou om ’n hoekie te gaan sit en ons minderwaardige polse te kou nie.

Eerder moet ons Jesus se kruis gaan opsoek. Op ’n manier moet ons daar by die kruis ons onvermoë om ‘n mooi prentjie in die wêreld te verf, erken. Ons moet die pakkie sondes wat ons al hiermee verdien het neersit. Ja, ons moet dit erken en dan net daar los.

En dan moet ons uit dankbaarheid daar opstaan en weer met alles in ons probeer om ’n beter, ware prentjie van God se Woord in die wêreld uit te leef. Jy sien, as ons uit dankbaarheid aangevuur word, wil ons God se wil lewe. Dan gaan ons met die hulp van die Heilige Gees dit net beter regkry. Die prentjie wat die wêreld van ons sien sal vir die wêreld so mooi wees dat dit hulle aantrek, sodat hulle ook so wil wees.

Dan sal God se Woord nie bespotlik gemaak word nie. Inteendeel!

My vrou praat met ’n Jood in Israel. Hy vertel dat ons Christene, wat Jesus se liefde en vryheid het, die opdrag in die Bybel ontvang het om ander mense juis hierdie vryheid te wys. Eintlik moet ander jaloers wees op ons wat die antwoord en die Antwoord ontdek het. Maar die Jood eindig met die woorde: “But you failed”.

Eina!

En tog is hy reg.

Mag God ons help om anders te lewe. Mag ons beter prentjies van God en Sy Seun en Hul liefde en genade vir die wêreld gaan wys, sodat mense nie met God se Woord spot nie.

Teks
Tit 2:1-5

Om oor na te dink
Hoe lyk die prentjie wat ander mense het oor jou manier van lewe?
Hoe ontvang ander God se Woord a.g.v. jou lewe?
Wat moet jy anders doen?

Gebed
Vader, U is groot. U maak so ’n groot verskil in my lewe. As dit nie vir U was nie, was ek vir seker van die pad af. Dankie dat U aan die kruis vir my gesterf het. En tog bly ek swak. Help my om uit dankbaarheid U Woord na te jaag en alles wat daarin staan ’n werklikheid in my lewe te maak. Mag ander ’n beter prentjie van U Woord kry, omdat U Gees deur my skyn. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek