God se Woord in vandag se woorde

Bewapen vir die geveg


Die lewe is nie altyd maklik nie. Eintlik is dit ’n groot en lang stryd. Baie van ons voer elke dag ’n stryd van oorlewing. Dit voel of ons enige oomblik die stryd gaan verloor.

Paulus en sy vriende was voortdurend in ’n stryd gewikkel. Mense het hulle afgebreek, hulle vals beskuldig en hulle naam deur die modder gesleep. Mense wat hulle goed ken, het die rug op hulle gedraai en gemaak of hulle hulle nie ken nie. Hulle is selfs geslaan en aangerand. Hulle ken van arm wees en hulle ken van hartseer wees.

En hoe sien Paulus dit? Hy weet in sy hart dat hy die waarheid praat, maak nie saak wat mense van hulle sê nie. Op ’n manier kry hy dit net reg om met die groot hoop vreugde wat in hulle is die seer en die hartseer te oorbrug. Weet jy, dit maak nie saak of jy nou maak of jy my nie ken nie, ek weet gelukkig dat die Almagtige God my ken… Ja, al het mense ons aangerand en probeer doodmaak, kyk, hier staan ons nog. Ja, al het ons nie baie nie, in die Here is ons skatryk.

Paulus het die regte wapens om die curve balls wat die wêreld na hulle gooi, te beveg. 7… Ons is tot die tande toe bewapen vir ons taak. En ons wapens? Ja, natuurlik: die goeie nuus dat God sondaars vryspreek wat ons in staat stel om reg te leef. Met hierdie wapens in ons hande durf ons die wêreld aan. God is aan ons kant. Hy het ons so lief dat Hy al ons sondes aan die kruis laat vasspyker het. God sal ons nooit alleen los nie. As Hy ons so liefhet dat Hy bereid is om sy Seun aan ’n kruis te laat spyker, hoekom sal Hy ons dan nou hier in die krisis alleen los? Nee, God sal dit nooit as te nimmer doen nie. Met die wapens aan ons sy sien ons kans vir enige oorlog wat die wêreld teen ons wil maak.

Dalk dink jy dit was net in die Bybelse tyd so. Kom ek laat Jan sy storie vertel:

Ons het al smart, swaarkry en bankrotskap ervaar in ons huwelik van 32 jaar.

· Ons eerste dogtertjie is oorlede op die ouderdom van 6 weke a.g.v. baie probleme na geboorte.

· Ons het 3 pragtige kinders daarna, maar nie sonder drama nie.

o My oudste seun is vandag goed gekwalifiseerd en als het net die regte pad tot dusvêr geloop, waarvoor ons dankbaar is.

o My tweede jongste seun het op 8 maande komplikasies gehad wat gepaard gegaan het met die begin van epilepsie, tot so ‘n aard dat hy skade opgedoen het op die ouderdom van 11 jaar en leergestremd geraak het.

o Ons jongste dogter is op 3 dae oud gediagnoseer met hartkwale in so ‘n mate dat sy haar eerste ope hartchirurgie ondergaan het toe sy 4 dae oud was. Na 3 opvolgoperasies het sy op 6 maande verlam geraak na komplikasies tydens die 4de hartoperasie. Nog 1 het gevolg op die ouderdom van 5 jaar.

· Daar was weer komplikasies met my dogter en seun teen 1999, toe depressie eensklaps een dag by my die oorhand gekry het. Dit ook nadat ek ons hele lewensverdienstes verloor het a.g.v. ons geld in die besigheid wat iemand homself toegeëien het.

Die doodsengel was fisies besig om my te neem toe God voor my verskyn in ‘n helder wit beeld en my genooi het om by Hom en Jesus te kom sit. Hy het aan my gesê: “Kom na My toe, Ek sal jou nooit versaak nie”.

Nodeloos om te sê, als het verander in ‘n ommeswaai. My seun het ongeag sy ‘probleem’ ‘n voltydse werk. My dogter is ongeag haar ‘disability’ vandag akademies gekwalifiseerd en op die drumpel van ‘n geweldige groot deurbraak in die musiek industrie.

Sy belofte aan ons is tot vandag toe daar en Hy sal sorg, maak nie saak in watter omstandighede nie. Met ons fokus net op Hom kan niks, maar niks, die oorhand kry nie, want sy krag en mag oorweldig enigiets en alles. Ons het ook in die proses geleer om mense vry te spreek en die betekenis en belangrikheid van vergifnis geleer.

Jan weet net soos Paulus watter wapens om te gebruik om die aanvalle van die wêreld te weerstaan en te oorwin. Met die wapen van ’n God wat so baie vir sy mense omgee dat Hy selfs hulle sondes op Hom sal neem, kan ons die lewe aandurf. God is orals saam met ons. Weet dit. Glo dit en leef dit.

Kliek hier vir skakel na teks: 2 Korintiërs 6:1-11

Om oor na te dink

Waar kom jou aanvalle vandaan?

Wat moet jy doen om jouself te bewapen?

Glo jy dat God by jou is?

Gebed

Vader, ek het U so nodig. Op my eie kan ek dit nie doen nie. Ek glo dat U vir my sondes gesterf het en vir my baie lief is en my nooit alleen sal los nie. Ek wil die wêreld met sy aanslae teen my beveg. Ek trek nou die wapen van verlossing aan. Stap saam met my orals waar ek gaan. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek