Bid vir versterkings – Romeine 15:22-33
30 My liewe broers en susters, ek wil tog iets belangriks vir julle vra: bid asseblief vir my! Ek vra dit in die Naam van ons Here Jesus Christus. En ek vra dit omdat die Heilige Gees ons almal met liefdesbande aan mekaar vasgebind het. 31Julle moet baie ernstig vir God vra om my te beskerm teen al die ongelowiges daar in Judea. Bid ook dat die Christene in Jerusalem hierdie geldelike bydrae wat ek na hulle toe vat, sal aanvaar.
Gebed is een van die mees belangrikste aktiwiteite van ’n Christen. Daarsonder stel jy jouself heeltemal oop vir die vyand om in te kom. Dit is amper soos ’n doelwagter van ’n sokkerspan. As ’n sokkerspan op die veld gaan sonder dat daar ’n doelwagter is, soek hulle vir groot moeilikheid. Die opponente gaan ’n fees van doele hê, want daar is niemand wat die doelhok verdedig nie en met reëlmaat sal hulle die een doel na die ander aanteken.
As ’n Christen die wêreld aandurf sonder gebed, gaan die opponente keer op keer deurglip en punte aanteken. Die kans dat hulle op die ou end die stryd gaan wen, is baie beter as jou kans om te wen.
Paulus weet dit. Hy ken die krag van gebed. Hy weet dat hy op sy eie nie die stryd gaan wen nie. Daarvoor is die mag van die opponente net te groot. Hy weet hy kan dit nie op sy eie doen nie en hy maak staat op sy Versterkings. Op sy eie kan hy nie teen die ongelowiges opstaan nie. Jy moet onthou dat die mense van daardie tyd woes was. As hulle nie saam met iemand se geloofsoortuiging gestem het nie en die ou te veel volgens hulle van die pad af was, het hulle sommer klippe opgetel en die ou net daar tereggestel. Paulus weet hy is te lig in die broek om die aanvalle te weerstaan. Maar met Versterkings sien hy egter kans.
Ek glo in gebed. Ek glo dat ek deur gebed beskerm is om in my jongdae nie die verkeerde paaie te vat nie. Ek was maar aan die rowwe kant en het dalk te veel klem gelê op beproef alles en behou die goeie. Soms het ek verkeerde afdraaie gevat en was die kans vir ’n katastrofe net om die draai. Op ’n manier het ek dit gemis en weer op die regte pad beland. Ek glo dit was die krag van gebed. En nie my eie nie, maar my ma s’n. Sy het haar knieë stompies gebid vir haar kinders, maar veral vir haar seuns. Ek glo regtig dat dit my ma se knieëwerk is wat ons seuns op die pad gehou het.
Corrie ten Boom, ’n baie gelowige tannie wat Jode tydens die holocaust versteek het, het altyd gesê dat gebed die enjinkamer van ’n kerk is. Maar ek wil dit nog nader aan die lyf vat. Gebed is die enjinkamer van elke gelowige. As ons nie bid nie, is ons nie in kontak met God nie, weet ons nie hoe ons die pad moet stap nie en is ons guard down. Dan is ons soos ’n oop doelhok wat regstaan om deur die opponente aangeval te word.
Paulus kon nie sonder gebed nie. Paulus het besef wat die krag van gebed is en wat dit vir hom beteken. Daarom dat hy ander vra om saam met hom te bid.
Gebed werk. Gebed het krag. Sonder gebed kan ek en jy nie die dag in nie. As ons dit doen, moet ons nie verbaas wees as die opponente die heeltyd doele aanteken en as oorwinnaars uit die stryd tree nie. Wees paraat en bid gedurig. Hou jou doelwagter voor die hok. Maak tyd om met God te praat. Hy sal die versterkings stuur, vra maar vir Paulus.
Om oor na te dink
Hoeveel tyd maak jy in die dag vir gebed?
Is dit genoeg?