Blaps in die swembad
My seun neem ’n tyd gelede aan die SA Lewensredding kampioenskappe in Durban deel. Dit was my eerste keer by so ’n kampioenskap en vir my was dit baie interessant. Stilwater-lewensreddingbyeenkomste vind in ’n swembad plaas. ’n Paar van die items in die swembad sluit ’n gesimuleerde reddingspoging van ’n manikin, oftewel ’n plastiekpop in. Dis tog te koddig om te sien hoe die plastiekpop aan ’n tou al agter die swemmer aan dobber. Een swemmer het per ongeluk sy plastiekpop verkeerd vasgemaak wat ’n glimlag of twee veroorsaak het terwyl die arme pop deur die water gesleep word.
In een van die items waaraan my seun deelgeneem het, moes vier van hulle in ’n span saamwerk. Dit was ’n baie uitdagende item met verskillende taktiese oefeninge. Hulle het alles baie mooi reggekry en baie goed gedoen. Aan die einde van die item kom almal in ’n bondel bymekaar sodat die hoofbeampte kan sê of ’n span gediskwalifiseer is.
Groot was my seun en sy span se verbasing om te hoor dat hulle gediskwalifiseer is. Hulle het dan alles so takties reg gedoen. “Dit is so,” sê die beampte. Hulle is nie daaroor gediskwalifiseer nie. “Een van die spanlede het twee swembroeke aangehad!”
“Wat?” “Jip”, sê my seun. “As jy twee swembroeke oor mekaar aantrek, kan dit jou ’n voordeel gee. Die ironie van alles is dat die ou wat die twee swembroeke aangehad het, eintlik homself en die span benadeel het aangesien die swembroek wat hy bo-oor aangetrek het te groot was vir hom.” Maar nou ja, reëls is reëls.
Orals is dit so. As jy nie die reëls nakom nie, word jy gediskwalifiseer en is jou kans om op die wennerspodium te staan, nul. So werk dit ook met geestelike dinge: 5Sê nou ’n atleet neem aan ’n resies deel. Hy sal net kan wen as hy al die reëls mooi nagekom het, anders word hy gediskwalifiseer.
Daarom is dit so belangrik om die reëls te ken. Ek vermoed die outjie wat die twee swembroeke aangehad het, het nie geweet hy doen verkeerd nie. Inteendeel, hy het homself eintlik benadeel om die twee so oormekaar aan te trek. As hy die reëls geken het, sou hy homself nie benadeel het nie en nog minder die res van die span.
Kinders van die Here moet die “reëls” ken. Ek sit reëls tussen aanhalingstekens, want dit is eintlik meer rigtingwysers. Reëls het te doen met pak kry en rigtingwysers meer met liefde. Laasgenoemde is God se manier van doen. Hy wil ons die rigting wys, in liefde.
Hiervoor moet ons op die uitkyk wees. Ons moet fokus op God se leiding, sodat ons presies kan weet hoe ons die lewe moet leef. Ek weet ons gaan langs die pad ’n paar vrot keuses maak. Ek weet ons gaan hier en daar dinge soms uit onkunde en soms nie, doen, maar dankie tog dat God se genade groot genoeg is om ons ook hieruit te kom red.
Die swemmer wie se pop onderstebo gesleep is, het maar redelik rooi uit die swembad geklim, want baie het daaroor gelag. Maar ek glo hy sal nie weer so ’n fout maak nie. Volgende keer sal hy dubbeld seker maak dat hy nie weer sy naam met ’n plank slaan nie.
Kom ons maak ook seker. Kom ons sit by God se voete, elke dag. Kom ons oefen soos ’n goeie atleet en raak sterk om eendag ook die oorwinnaarskroon op ons kop te sit.
Teks
2 Tim 2:1-7
Om oor na te dink
Waar maak jy nog foute?
Hoe moet jy anders maak?
Hoe lyk jou resies tot op hede?
Gebed
Here, help my om al die rigtingwysers en aanwysings raak te sien en te gehoorsaam, want ek wil nie die prys aan die einde van die wedloop mis nie. Amen.