Bloed, dikker as water en genoeg
Dis nogal vir my moeilik om keer op keer oor dieselfde onderwerp te skryf. Ek dink ek moet by die skrywer van Hebreërs gaan leer hoe om dit te doen. Hy skryf oor en oor wat Jesus gedoen het. Ek vermoed hy doen dit om, soos die Engelsman sê, to drive the screw in. Ek vermoed hy is bang dat sy lesers nie heeltemal verstaan wat Jesus vir hulle gedoen het. Dalk was hy bang dat hulle tradisie hulle gekeer het om die boodskap regtig in hulle te laat grondvat.
Dalk is daar iets soos die tradisie waarin ons grootgeword het, of iets anders wat keer dat ons die boodskap suiwer hoor. So, kom ons kyk weer na dit wat Jesus vir ons gedoen het, soos wat die skrywer van Hebreërs dit vir ons weer bring.
13Onder die reëls van die ou ooreenkoms is die bloed van bokke of beeste of die as van ’n bul wat op die offeraltaar verbrand is, op iemand gestrooi. So is daar ontslae geraak van al die verkeerde dinge wat die persoon vir God onaanvaarbaar gemaak het. 14Dink net hoeveel duisend keer meer aanvaarbaar sal die bloed van Christus ons dan vir God maak.
’n Baie ou beeld kom by my op. Toe ons kinders was, was daar nie iets soos waterbeperkings nie. En ek was mal daaroor om met water te speel. Ek het die tuinslang op ’n hoogtetjie laat lê en liggies oopgemaak. Dan het ek riviere gebou soos wat die water al met die helling afloop. Later is ek daar in die vlakte en bou al langs die stroompie walletjies om die water se loop te vorm.
As ek egter die kraan toemaak, hou die water op met loop en vloei my mensgemaakte rivier nie meer nie. Ek moes elke keer eers die kraan gaan oopmaak vir my rivier om weer vol te kom en verder te loop.
God hou ons riviere vol. Met Sy Goddelike weerstelsels laat Hy die water oor die see verdamp. Met Sy asem blaas Hy die wolke oor die land en op die regte tyd val die reën oor die land en die rivier kry hul loop see toe – om die sirkel te voltooi. En die sisteem is volmaak en loop sommer vanself.
Die mens kan dit nie so laat reën nie. Sy probeerslae op veel kleinere skaal, om landerye nat te maak, gebeur nie outomaties nie en is nie volhoubaar nie. Dis baie duur om water te skuif – vra maar vir my. Op die plaas het ek gedink ek is slim om al die oop gronde met pampoen toe te plant. Daai spuitery het my binne een seisoen vyf jaar ouer gemaak.
Dan besef ’n mens hoeveel ons te kort skiet. Ons probeerslae is net te lig in die broek. Soos met die probeerslag om ontslae te raak van die skuld wat ons vir ons sondes bymekaargemaak het. Die offer van diere se bloed deur die priesters was net ’n korttermynoplossing en moes weer en weer gedoen word.
Wanneer God ingryp, maak Hy ’n plan wat groot genoeg is sodat Hy dit nie soos die mens oor en oor hoef te doen nie. Al manier hoe Hy dit kon regkry, is om self deur Jesus die bloed te skenk as offer vir die mens se sondes. Jesus se bloed was veel dikker as water. Veel dikker as diere se bloed.
Hierdie bloed is anders. Dit is Goddelik. Dit is spesiaal. Dit is genoeg.
Teks
Hebreërs 9:13-14
Om oor na te dink
Wat maak Jesus se bloed vir jou moontlik?
Wat doen dit aan jou manier van leef?
Hoe kan jy die boodskap by jou vriende uitkry?
Gebed
Vader, ons kan die boodskap nooit genoeg hoor nie. Wat U vir ons deur Jesus se bloed reggekry het, is voorwaar lewensreddend. Op my eie sou ek dit nie gemaak het nie. Help my om hierdie wonderlike boodskap daar buite in die wêreld te gaan uitleef. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.