God se Woord in vandag se woorde

Bly vasklou


Ek is die afgelope tyd so onder die indruk dat daar mense is wat regtig swaarkry. Mense wat al vir lank met een of ander uitdaging sit en nie weet hoe om daar deur te kom nie. Baie bid en smeek dat die spoeg spat, maar niks gebeur nie.

Dan verstaan ek dat mense moed opgee. Ja, dis verstane dat mense dan hoop op God opgee en hulle geloof in God by die deur uitwaai.

Ek skryf ’n stuk met die titel: “Pêlla, God sal jou nie drop nie”. Ek kry hierdie rou, eerlike e-pos van James (skuilnaam):

 Sê jy nou vir my god sal my nooit drop nie? My hele lewe is ’n getuienis van hoe die here presies die teenoorgestelde doen as wat ek van hom in smeking, bid, vas en huil soebat. Hy doen net mooi niks, behalwe verwoes.

Die bybel praat van hom as ’n liefdevolle god en hy is lief vir jou en sal doen dit wat jy hom vra, maar hy staan en kyk toe hoe my lewe verwoes word. Dit terwyl ek my gat af gebid en gesmeek het.

En wat kry ek? Presies die teenoorgestelde as wat ek vra. So nee, god sal jou definitief drop hoor. Ek is bewys daarvan.

Ek wonder hoe sou ek dit hanteer het as ek in James se skoene was. Ek wonder of ek God se naam ook met kleinletters sou skryf? Sou ek op die ou end ook uitgekom het by die godverlate plek en glo Hy het my ge-drop?

Wat antwoord ’n mens? Wat doen ’n mens? Plak ‘n pleister wat klein is?

Ek wil amper sê, when all else fails, moet ons gaan kyk na hoe ander mense dit gedoen het. Gaan lees ’n bietjie weer die stories in die Ou Testament. 10… Hulle het soms baie swaargekry, maar hulle het aangehou. 11Julle weet dat ons almal dink dat hulle regtig iets bereik het omdat hulle hulle nie van die Here se koers laat afbring het nie. Julle het mos gehoor van Job en wat die Here uiteindelik vir hom gedoen het. Dit is ’n verhaal van hoe goed en vol liefde die Here regtig is.

Ons almal ken vir Job. Ek dink nie ’n mens kan erger gemartel word as Job nie. Hy het letterlik alles verloor. Sy familie, sy vriende, sy diere, sy besittings en selfs sy gesondheid. Hy het erg gestoei met God. En tog het hy op ’n manier bly klou aan sy geloof.

En wat doen God? Hy gee vir hom dubbeld en dwars terug van wat hy gehad het.

Tog verstaan ons nie alles nie. Ons verstaan nie hoekom God dit toegelaat het dat die duiwel vir Job so verwoes nie. Maar wat ons wel weet, is dat God uit liefde baie meer vir Job gegee het as wat hy aan die begin gehad het.

Of hierdie stukkie James sal motiveer om aan te hou en uit te hou en te bly wag vir God om op te daag, weet ek nie. Of dit dalk vir jou help in jou stoeiery, weet ek nog minder. Tog sal ek bly terugkyk na die mense voor my en om my wat deur die swaarkry bly vashou het. Ek sal vasklou, want eintlik is dit al wat ek het.

Teks
Jakobus 5:7-12

Om oor na te dink
Skryf jy ook God se name soms met kleinletters?
Of eerder, is jy ook soms net mismoedig?
Kan jy dan na ander kyk en bly glo?

Gebed
Vader, ek sit soms in ’n gat en wonder of U nog aan my dink. Tog bly ek glo, al kan ek nie U in my lewe sien nie. Help my dat ek nooit my geloof verloor nie. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek