God se Woord in vandag se woorde

Boom uit die pad gesleep


Vanuit die Ou Testament lyk dit vir my of die mense eintlik bang was vir God. Dis asof die mense vir God gesien het as ’n kwaai onderwyser wat met ’n rottang in die hand staan en soek na plekkies waar die mens verkeerd trap, sodat Hy pak slae kan uitdeel.

Die beeld wat ons egter van God het, is ’n God wat van liefde oorloop en enige iets sal doen om sy kinders by Hom uit te kry. God is nou binne die bereik van die mens. Ons kan met God praat. Ons kan ons hart teenoor Hom uitstort. Ons kan ons binneste geheime vir Hom oopmaak. Ons kan ons begeertes deur smeek en dankgebede aan Hom bekendmaak. En Hy hoor. Hy weet van elke liewe dingetjie van ons.

Dit alles is moontlik gemaak deur Jesus. Jesus het dit moontlik gemaak dat die mens weer nader aan God kan kom. Die prentjie is nie meer ’n onderwyser wat met ’n lat in die hand staan nie, maar eerder soos ’n oupa wat op en af loop en nie kan wag dat die kinders en kleinkinders by die huis kom nie. Al die bederf net agter die deur weggesteek.

Ons prentjie het verander deur Jesus wat die grense tussen ons en God kom afbreek het deur vir ons sondes te sterf. 18Vir almal het Jesus die pad na God toe oopgemaak, en deur die Gees ervaar ons nou ook hoe naby God regtig aan ons gekom het.

Jesus het die deur na God weer kom oopmaak. God het die obstruksies, wat self deur die mens opgerig is, kom wegstoot.

Ek onthou nog toe ek eendag saam met boerevriende op ’n plaas gekuier het. Dit was in die winter en ’n erge storm het buite gewoed. Die reën het in sulke flardes gelyk met die aarde ingestorm en die winde het die groot bome heen-en-weer- geruk. Ons het nie te laat die pad gevat nie, maar nie ver van my vriend af nie word ons vrese waar. Daar lê ’n groot boom oor die pad. Anderkant die boom staan ’n lang tou van voertuie en ek sien in die eerste een is kuiergaste van my vriend.

Wat nou? Ek dog toe by myself: Ek het mos ’n lekker groot bakkie en ek het mos ’n sterk tou vir noodgevalle. Ek het die tou in die gietende reën om die boom gekry en die bakkie se diff lock aangeskakel. Die wiele het so ’n paar keer getol en die bakkie eers na die een kant en toe na die anderkant toe gewip, maar toe kom die boom agter my aan.

My vriend se kuiergaste het dankbaar gewuif en ook al die ander mense agter hulle. Die pad wat toe was is nou weer oop, maar iemand moes eers die boom uit die pad kry voor hulle kon deurkom.

Dis wat Jesus gedoen het. Hy het die pad kom skoonmaak tussen ons en God. Hy het die obstruksies, wat ons oor die jare in die pad gepak het, uit die pad gehaal. Nou is daar niks meer wat tussen ons en God staan nie.

God is binne bereik van my en jou. Die vraag is of jy erns gaan maak om by God uit te kom.

Teks:

Efesiërs 2:11-18

Om oor na te dink

Glo jy dat Jesus die pad kom oopmaak het?

Leef jy naby God?

Sien ander Hom in jou lewe raak?

Gebed

Here, U doen alles van u kant af. Selfs die gemors wat ons gesaai het, verwyder U deur te sterf aan die kruis. Dankie daarvoor, Jesus. Help my om op te staan en naby U te leef. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek