Branders wat klots
Wanneer ek aan ’n preek begin voorberei, skryf ek deesdae heel eerste die volgende neer: “Nie my woorde nie, maar U woorde!”. Want so maklik kom ons eie woorde in die pad en dan maak ons groot foute.
Ek preek by ’n aftreeoord in Somerset-Wes. Ek skrik die vorige week in die middel van die nag wakker en ek neurie ’n lied van ons studente-band, Kerugma. Dis ’n beryming van Psalm 1 en ek besef dis die preek vir Sondag.
Dis eenvoudig, sê Dawid. Moenie saam met die goddeloses stap nie. Stap eerder dag en nag deur die Woord van God. Dan sal jy soos ’n groot boom langs ’n stroom staan en vrugte dra. Mense wat swaar trek, sal by jou kom koelte kry en jy sal van jou vrugte kan deel. Vir seker sal dit dan goed gaan met jou.
Maar terwyl ek die boodskap gee, besef ek dat baie van die mense voor my sukkel. Sommige se gesondheid sukkel. Sommige se geldsomme wil nie klop nie. Sommige se verhoudings met hul kinders is deurmekaar. Dit gaan rêrig nie goed met almal nie. Staan die teks dan in kontras met die werklikheid?
Sommerso deur die preek, gee die Here vir my die antwoord. Moeilike tye is deel van die lewe, maar dit kan nog steeds goed gaan met ons, te midde van die swaar. Ek kry ’n beeld van ’n groot olietenkskip. Die branders kan maar hoog wees. Die skip word nie daardeur geaffekteer nie en bly stabiel daardeur gly, want die skip is veel groter en sterker as die golwe.
Net so, is ons lewe ook vol dinge en soms is die branders hoog, maar as ons op die regte pad bly en God se Woord gedurig lees en deel maak van onsself, sal ons besef dat ons God veel groter as ons lewensbranders is. Ja, dan kan dit goed gaan met ons te midde van die swaar.
Neem nou maar vir Abraham as voorbeeld. Abraham het ’n ongelooflike verhouding met God gehad. Hy het Hom 100% vertrou. Sy geloof was so sterk, toe God hom na ’n onbekende land roep, trek hy dadelik sy tentpenne uit.
8God het vir Abraham gesê dat hy sy goed moet vat en na ’n ver plek moet trek wat God dan vir hom as ’n blyplek sou gee. Abraham het glad nie geweet waar dit was nie, maar het gehoorsaam sy goed gevat en gegaan. 9En die rede: hy het God heeltemal vertrou. Juis daarom het hy sy tent gaan opslaan in daardie land wat God vir hom beloof het, al is hy eers soos ’n vreemdeling daar behandel.
Selfs met hierdie spesiale kind van God het dit nie altyd voor die wind gegaan nie. God vra van Abraham om baie op te offer. En hier kom hy uiteindelik by die nuwe land aan, maar niemand ontvang hom met ope arms nie. Inteendeel, hy word as ’n vreemdeling gesien en dienooreenkomstig behandel.
Gelukkig het Abraham besef dat dit maar net ’n golfie is wat onder die skip slaan en dat sy God, die Een wat hom geroep het en baie planne met hom het, veel groter is.
Mag ons dit ook besef. Die lewe is vol branders wat ons wil probeer omgooi. Ons moet egter onthou dat ons God veel groter is.
Teks
Hebreërs 11:8-19
Om oor na te dink
Watter branders klots teen jou?
Glo jy dat God se skip groot genoeg is?
Waar moet jy anders maak?
Gebed
Vader, dit is goed om weer te hoor dat U groter is as enige brander wat na my kant toe kom. Daarvoor eer ek U. Help my om daaraan vas te hou. Gee my wysheid om elke brander reg te hanteer, saam met U Gees. In Jesus se Naam, amen.