God se Woord in vandag se woorde

Bring die hoop weer terug


’n Mens moet nogal daarteen waak dat ons nie in negatiewe gesprekke se strik trap nie. Ja, daar is soveel uitdagings. Soveel dinge wat nie werk nie. Dan is dit nie so maklik om deel te neem aan die mense wat heeldag kla nie.

Dit is baie keer in die gesprekke dat ons so mismoedig word, dat ons nie ’n uitkoms sien nie. Die toekoms word al hoe swarter. Die netto effek is dat ’n mens se hoop by die agterdeur uitstap. Dis ’n hoop-lose plek om te wees.

Jo Black vra in sy liedjie: Bring die hoop weer terug, wat hoop is. Hy antwoord self die vraag deur te sê: Dis die wens dat die son weer opkom, dis dat vrede by ons uitkom, dis die gees van ’n man wat uitskree. Dan pleit hy: Bring die hoop net weer terug.

As hoop weg is, as daar nie meer iets oor is om na uit te sien nie, as daar nie ’n verlange is dat dit om die draai beter sal gaan nie, hoekom sal ’n mens dan uithou en aanhou en weer probeer?

’n Mens het ’n lewende geloof nodig. ’n Geloof wat lewe bring. ’n Geloof wat wegbeur van die swaar van die lewe na ’n lewende iets of iemand wat om die draai staan. Hierdie lewende hoop help ’n mens juis om weer op te staan en weer te probeer.

Ek dink sommer nou aan die Emmaüsgangers. Hierdie ouens se gemoed het in hulle skoene gesit. Hulle droom was aan skerwe. Hulle toekoms swart, want die Een in wie hulle geglo het, sou hulle verlos uit die kake van die dood, maar nou is Hy dood.

Hulle hoop was dood. Waarna kan hulle dan nou uitsien? Dit waarin hulle geglo het, hulle hele bestaan was aan skerwe en ja, selfs hulle hoop was dood.

Ek sou eintlik graag ’n vlieg teen die muur wou wees om die reaksie van die Emmaüsgangers te sien toe hulle agterkom hulle reisgenoot is eintlik Jesus. Ek sou graag saam met hulle wou ervaar hoe dooie geloof sommerso weer opgewek word en lewe.

Ons geloof lewe ook.

3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop.

Ja, op ’n manier het ons geloof saam met Jesus aan die kruis gesterf, maar God dank, dit het weer saam met Hom uit die dood opgestaan. Ons hoop leef omdat ons Hoop, Jesus, die dood oorwin het.

Wat maak jy met die lewende geloof? Jo Black help ons om die geloof lewe te gee: Hoop, wees die hoop. Steek julle hande uit na mekaar. As jy moeg is, sal ek jou dra. Bring die hoop weer terug. Jy is die lig in die donker gang. Jy is die baken wat op die heuwel bly staan. So, bring die hoop weer terug.

Gaan lewe nou só en bring die lewende hoop na die mense wat so hoop-loos deur die wêreld strompel.

Teks
1 Petrus 1:3-5

Om oor na te dink
Hoe lyk jou hoop?
Hoe kan dit weer lewe kry?
Hoe kan jou hoop ander se hoop weer laat lewe kry?

Gebed
Vader, sonder Jesus is ons hoop dood. Dankie dat ons hoop kan lewe. Dankie dat ons Hoop lewe. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek