Burgers van die land
Ons land is nie aldag op ’n goeie plek nie en soms wonder ek oor die dinge wat my medeburgers aanvang. Tog is ek trots op my land en sy mense al maak ’n paar faksies my die hoenders in. Trots Suid-Afrikaans!
Dis lekker om te weet dat ek êrens behoort. Dit gee vir ’n mens betekenis en waarde. Wanneer ek alleen is, troos ek my daaraan dat ek êrens hoort. Ek het medeburgers wat net soos ek dink, net soos ek praat en net soos ek doen. Ons droom selfs oor dieselfde dinge.
Net so is ons ook burgers van ’n ander ryk, God se ryk: 20Hoe anders is ons nie! Wat vir ons saak maak, is die hemelse dinge. Daar lê ons ware vaderland. Uit daardie vaderland sal ons Redder kom. Ons is ook burgers van die hemel, want ons Vader woon daar. Ons is anders as ander mense, omdat ons die identiteit het van burgers van die hemel. Ons het ’n Vader in ons land wat ons anders maak. ’n Vaderland wat anders is en waaraan ons mag behoort.
Die vraag is of jy ’n goeie burger is van jou land en ook van die hemel?
Ek kry ’n brief van ’n Luitenant-kolonel in die Polisie wat dieselfde vrae vra:
Vir ons as Suid–Afrikaners is dit al te maklik om te sê ons is ware Christene. Maar is ons?
Indien wel, hoekom pas ons nie die tien gebooie in ons daaglikse lewe toe nie? Ons sal moet besef dat indien ons dit nie doen nie, versaak ons ons Skepper se opdragte aan ons as Christene en sal ons dan die gevolge van swak oordeel en besluitneming moet dra, omdat ons nie sy opdragte nakom nie. Vra my – ek het ook al as sondaar agter hierdie deur gestaan met katastrofiese gevolge.
Vir die toekoms sal ons as Christene daarna moet streef om veral die Suid–Afrikaanse jeug nader aan ons Skepper te bring en ware Christene van hulle te maak, omdat die etiket van gewelddadigheid al groter raak om die nek van ons as landsburgers.
Leef ons werklik anders as ander burgers in ons land? Sien ander raak dat ons ook burgers van ons Vaderland is?
Eintlik is dit net die dinge van ons Vaderland wat moet saak maak. Dit is wat ons moet nastreef. Ons moet so leef dat ons Vader se wêreld reeds hier in ons lewe op aarde begin gestalte vind. Met ander woorde – ons moet God se wêreld ’n realiteit maak waar ons gaan. Ons kan dit op verskillende maniere doen.
Die maklikste maatstaf is om alles wat ons doen, in liefde te doen. In liefde te praat, te berispe, te droom, te dink, te alles! En dan plekke te soek waar ons dit kan laat gebeur.
As ons dit regkry, sal ons burgerskap in ons Vaderland op aarde grondvat en sal die wêreld om ons anders lyk.
Om oor na te dink
Leef ons werklik anders as die ander burgers in ons land?
Sien ander raak dat ons ook burgers van ons Vaderland is?
Hoe moet ons nou maak?
Gebed
Here, ek besef my identiteit in U. Ek besef dat ek anders is, omdat ek in U glo. Ek besef dat ek reeds ’n burger is van die lewe hierna. Help my om dit reeds hier op aarde sigbaar te maak. Amen.