CEO vir jou
Ons almal maak prentjies van mense. Het jy al agtergekom hoe jou prentjie van mense verander soos wat jy hulle beter leer ken? Ek lag nou nog saam met ’n vriend, want die eerste indrukke wat ek van hom gekry het, was nie baie goed nie. My prentjie van hom was dat hy upstairs is en heeltemal te veel van homself dink. Weens onvoorsiene omstandighede moes ons meer tyd met mekaar deurbring en in die proses het my prentjie van hom verander en ons is nou goeie vriende.
Net so het ons elkeen ’n prentjie van Jesus en ek vermoed die meeste van ons se prentjie van Jesus begin by sy geboorte in die stal en eindig by die opstanding. Tog is Jesus veel meer as dit.
Ons het in die vorige gedeelte geleer dat Jesus reeds van die begin, nog voor die aarde geskep is, al daar was. Nou kom leer Paulus ons nóg ’n paar dinge van Jesus: 17… Die kerk kan met ’n liggaam vergelyk word. Die belangrikste deel, die kop van die liggaam, is God se Seun.
Jesus is die CEO van die kerk. Almal wat in die kerk is, of dit nou deel is van die topstruktuur of ’n lidmaat, moet rapporteer aan Jesus. Ek vermoed ons doen dit nie meer so gereeld nie.
Toe ek in die besigheidswêreld was, het ek gehou van deelnemende bestuur. Ek wou nie Baas wees en die res Klaas nie. Ek het die mense bemagtig om hulle eie bestuursbesluite te neem. Tog was dit belangrik dat ons op ’n daaglikse basis in kontak was om seker te maak dat hulle besluite binne die riglyne van die besigheid was.
Daar was tye wanneer die wiele so effe afgekom het. Nadat ons die probleem op die tafel gesit het en die oorsaak probeer bepaal het, het ons keer op keer agtergekom dat daar besluite buite die riglyne geneem was. Die gevolge was dan nie altyd soos beplan nie.
Net so lyk die gevolge ook nie orals soos beplan in ons eie lewe nie. Ek vermoed dit het te doen met die feit dat ons nie by die CEO van ons lewe aanklop vir raad en leiding nie. Ons neem besluite op ons eie en soos ons goeddink. Baie keer in die Naam van die Here en in alle opregtheid. Die probleem is egter dat ons nie alles sien nie en nie weet wat anderkant die bult lê nie. Met die gevolg dat ons dikwels in die verkeerde rigting foeter en dan swaarkry.
17… By Hom het alles begin en Hy neem in alles die leiding. Hy het eerste uit die dood opgestaan.
Jesus weet presies wat om te doen. Been there, done that, got the T-Shirt.
Ai, ons kan darem so kortsigtig wees. Hoekom wil ons self eers weer die wiel ontwerp? Dink ons ons kan dit beter doen? Nee wat. Kom ons erken dat ons CEO alles weet. Kom ons belê vergaderings met Hom elke dag sodat Hy vir ons raad kan gee. By Hom is al die wysheid beskikbaar wat ons nodig het.
Dan sal vreugde en vrede oor ons spoel.
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Glo jy dat Jesus die CEO is?
Vertel jou lewe dieselfde storie?
Hoeveel tyd bestee jy by die CEO?
Gebed
Here, ek moet meer by U uitkom. As ek so terugkyk oor my lewe, weerspieël die stories min tyd saam met U. Ek wil meer tyd met U deurbring. Ek het U wysheid in my lewe so nodig. Amen.