Christenskap is nie vir sissies nie
Hulle sê mos oud word is nie vir sissies nie, want kyk nè, alles raak ’n uitdaging. Soms net om uit die bed op te staan gebeur in kompartemente. Soos ek wat Saterdag besef dis nou die tyd om al die swembadpype te vervang.
Ek wou nie eintlik nie, maar daar is êrens ’n lek. Vanuit my gemakstoel besluit ek om eerder ’n kwotasie te kry, want ek het nie nou tyd vir sulke pret nie. Maar toe ek die kwotasie kry, val ek summier uit my gemakstoel en besluit om dit self te doen. Eintlik het dit nou ’n kompetisie geraak waar ek net vir myself wil bewys hoe goedkoop ek die takie self kan doen.
Ek en twee manne klim verwoed in en grawe dat die biesies bewe. Dit gaan heel maklik, want die grond is sag na die lekker reën. Toe kom die pype lê en draaie en T’s ingom. Dit was eintlik maklik, maar ons moes so ’n meter of wat onder die plaveisel ingrawe om by die spuite te kom wat die water terugneem swembad toe.
Ek vermoed dis hier waar die moeilikheid begin het. Om die ou lyfie van my daar in te wurm moes ek ’n paar snaakse voue maak. Met my arms wat bo my kop werk, terwyl ek eintlik engtevrees aan die ontwikkel is, het ek ’n paar spiere gebruik wat nie gewoond was aan werk nie.
Sondagoggend toe ek in sulke kompartemente opstaan, het ek besef dat ek nie meer alles kan doen soos toe ek nog jonk was nie. Ek het seer gehad op plekke wat ek nie eers geweet het ek het plekke nie. Ek het ’n hele paar duisend rand die dag gespaar, maar ja, oudword is beslis nie vir sissies nie.
Dis nou ’n lang storie, maar Christenskap is ook nie vir sissies nie. Dis nie altyd so maklik nie en dit voel vir my hoe langer ons hier op die aarde woel, hoe moeiliker raak dit. Hoor nou weer hier vir Paulus: 24Iemand wat vir die Here werk, moet nie baklei nie. 25Nee, hy moet liewer gaaf wees met almal.
Dis moeilik om, wanneer iemand hier voor jou invleg met sy bussie, te keer dat die bloed kook. Dis moeilik as die regering dinge wil doen wat jou hele lewe kan verander. Dis moeilik as jy al die hoeveelste keer gesê het dit moet so gedoen word en mense vang net hulle eie goed aan. Dis moeilik as iemand goeters sê van jou en van jou geliefde wat vêr van die waarheid is.
Dan wil ’n mens baklei. Dan wil jy die ding sommer nou uitsorteer – op jou manier. Dan is gaaf-wees glad nie op die kaarte nie. Eintlik voel dit onmoontlik.
En nou hoor ek ’n klompie wat dink dat dit eintlik nie vir hulle bedoel is nie, want die vers praat net met die dominees, pastore en priesters. Wel, ek het nuus vir jou. Hierdie vers het betrekking op alle Christene, want ons almal is diensknegte van Jesus en ’n dienskneg werk ook vir die Here.
Eina!
Dit is nie altyd maklik om ’n kind van God te wees nie. Soms voel dit vir ons of dit eenvoudig net onmoontlik is om die pad te stap en dis asof dit moeiliker raak by die dag. Maar ons moet bewustelik die bokshandskoene wegpak. Ons moet ons staal teen die aanvalle en ons uiterste bes probeer om nie kwaad te word en terug te gee wat die ander verdien nie.
Ons moet eerder ons vissier sit op plekkies waar ons goed kan doen en gaaf kan wees. Dit is wat die wêreld nodig het. Dit is wat die wêreld gaan verander. Ja, die wêreld sal vir seker anders lyk as ons almal vriendelik teenoor mekaar is. Dan sal dit makliker wees vir ons almal om ware kinders van God te wees.
Teks
2 Tim 2:20-26
Om oor na te dink
Wat maak jou boos?
Hoe kan jy keer dat jy baklei?
Waar kan jy vriendelikheid gaan uitstort?
Gebed
Here, U weet hoe ek sukkel om nie my bloed te laat kook nie. U weet hoe vinnig my mond is. Dis asof daar net nie brieke is nie. Tog weet ek dat dit nie reg is nie. Ek weet dat ek eerder gaaf moet wees as om te baklei. Daarom net dit: Help my! Amen.