Clutch wat gly
1…Daarom, my goeie vriende, is dit vir my so belangrik dat julle getrou op die pad sal bly wat die Here vir ons gewys het.
En ek hoor baie mense wat dadelik begin verdedig en sê dat dit nie so maklik is om getrou op die pad te bly nie. Die lewe gebeur daar buite en daar is so baie uitdagings. Ons werk ons alies af om net kop bo water te hou. Vir seker is daar tye wanneer ons clutch gaan gly en waar ons van die pad af gaan foeter.
Ons is sondig van geaardheid. Ons is mens. Daar kom tye wanneer alles oorborrel en ons dinge sê waaroor ons later erg spyt is. Soms is daar dinge wat ons doen wat glad nie ons is nie en dan moet ons maar die pak vat. Ai, dis nie lekker om so gedurig in die sonde te val nie. Hoe kan ons sterker word? Hoe kan ons teen die aanvalle van die bose opstaan en elke keer oorwin?
Ek trou ’n paartjie in die Koue-Bokkeveld op die familieplaas waar my pa grootgeword het. Daar waar die lekker kraakvars appels en pere vandaan kom. Ek verduidelik vir hulle dat dit nie so maklik is om die appels so lekker vars op die rak te kry nie. Dis ’n lang en baie duur proses. Eers moet die grond voorberei word. Dan moet die regte plantmateriaal gekweek word. Wanneer die bome in die grond is, begin die harde werk eers. Baie water en kos en gedurige spuit teen die peste en plae.
Net so het die huwelik ook baie werk nodig het. Dis nodig om God deel te maak van die verhouding om te help met die grondvoorbereiding en te sorg dat die bome (dis nou die man en vrou) goeie materiaal is. Maar nou lê die harde werk voor. Nou moet hulle sorg dat die clutch nie gly nie. Nou moet hulle sorg dat hulle op die pad bly en dat die peste en plae nie die vrugte kom verwoes nie.
Ek lees vir hulle Psalm 1. Kyk net die goeie raad om op die pad te bly:
God hou sommer baie van jou, want jy leen nooit jou ore aan slegte mense uit nie. Jy hardloop nie agter elke nuwe sonde op die mark aan nie. Jy is ook nie bevriend met daardie spul wat met God spot nie.
God is baie bly omdat jy sy Woord geniet. Jy lees dit dag en nag sonder om moeg te word.
Daarom is jy soos ’n groot boom wat stewig langs die water staan.
Hierdie boom dra op die regte tyd baie vrugte en sy blare bly groen.
Sy grootheid skyn helder in alles wat jy doen. Daarom gaan dit baie goed met jou.
Meng jou met mense wat saam met jou na die regte pad soek. Vriende het ’n groot invloed op ’n mens se lewe. Hulle is soos magnete en trek ons vinnig in hulle kring in. As hulle egter nie baie van God se dinge hou nie, stoot hulle vir God weg en uiteraard van die saak, trek jy saam weg.
Kry vriende wat God dien.
Maar die heel belangrikste is om tyd vir God te maak. Elke oggend. Elke aand. Wanneer jy ’n stukkie beskikbare tyd het, bring dit in God se teenwoordigheid deur. Bestudeer sy Woord. Lees geestelike boeke. Kyk na geestelike materiaal, want dis juis hier waar ons intieme verhouding met God begin. Dis hier waar ons teen die peste en plae in ons lewe spuit en hulle uit ons lewens jaag.
Dan kan ons op God se pad bly en kan ons werklik ’n verskil maak orals waar ons gaan.
Om oor na te dink
Is jy op God se pad?
Hoeveel tyd bring jy in God se teenwoordigheid deur?
Sal jy jou verhouding met God as gesond beskryf?
Gebed
Here, hoe moet ons nie my kop in skaamte laat sak nie, want so gereeld foeter ons van die pad. Ons bring te min tyd met U deur. Ons sit te min met U Woord. Ons wil so graag nog meer tyd by U deurbring. Amen.