Dade in lyn met woorde
20Hy is die bewys dat God getrou is. Christus sê nooit een ding en doen dan iets anders nie. Hy maak al God se beloftes in die Bybel waar. Hierop kan ons almal net “ja en amen” sê, of hoe? En wanneer ons dit doen, word God se Naam grootgemaak.
’n Grootprater word gou uitgevang. Hy word later uitgeken as iemand wat net praat en niks doen nie. Met so ’n reputasie glo niemand meer iets wat hy kwytraak nie. As jou woorde en jou dade nie in lyn is nie is die kans groot dat daar êrens fout gaan kom.
Ek gaan gee my woonwa in vir ’n diens. Ek praat lank met die eienaar. Hy sê die besigheid kry swaar. Ek kry hom jammer. Toe die woonwa klaar gediens is, ry ek huis toe, maar kom agter dat al die werk nie gedoen is nie. Die eienaar het baie stories, maar ek neem die woonwa weer terug na hom. Uiteindelik is die woonwa gereed en ek gaan haal dit. Terug by die huis kom ek agter dat hulle die woonwa gestamp het. Ek neem dit terug. Die eienaar se stories is nou nog meer. Na weke kry ek my woonwa uiteindelik terug, maar die werk is so swak gedoen dat ek dit later na ’n vriend moet neem om oor te spuit. Die eienaar het nog baie stories. Ek vra hom hoekom dink hy sy besigheid kry swaar? Hy sê hy weet nie. Ek sê ek dink dis die stories se skuld, want hy sê een ding, maar doen ’n ander.
Mense kom gou agter wanneer iemand baie praat, baie stories vertel, maar ander dinge doen. Al sê mense niks wil hulle nie deel wees van oë- (of is dit mond-?) verblindery nie en dan soek hulle eerder iemand anders. Selfs in kerke waar mense dinge preek en dit nie doen nie, wil hulle nie daarvan deel wees nie. As jou woorde nie ge-back word deur jou dade nie, is dit leeg.
Ons moet ons woorde en ons dade in lyn kry. Dit wat uit ons mond kom, moet in ons dade sigbaar wees. Tog is dit nie altyd maklik gedaan nie. Ons praat altyd hierdie mooi dinge, maar wanneer dit by die doen gedeelte kom, is dit te moeilik en doen ons maklik ander stories.
Hoe kry ’n mens dit dan reg om jou dade in lyn te kry met jou woorde? Paulus gooi die fondament: 21God het ons almal saam stewig in Christus geanker. Hy is die fondament op wie ons lewe gebou is. God het ons ook met sy groot krag toegerus en ons eenkant gesit sodat ons Hom voltyds kan dien. Hy het boonop sy amptelike stempel op ons lewe geplaas as die bewys dat ons aan Hom behoort. Dit is die Heilige Gees.
Ons moet besef dat God ons help om ons woorde en dade dieselfde te maak:
· God gee Christus as ons anker. Die een aan wie ons kan vashou sodat ons nie in die woeste waters van die lewe versuip nie.
· Christus is ons fondament. Hy is die een wat die basis vorm van ons lewens sodat ons kan doen wat ons sê.
· God het ons bemagtig. Hy het ons krag gegee om nie net te weet en te praat nie, maar ook om te doen wat reg is.
· God sit ons ook so op die kant, sodat Hy met ons kan werk, ons kan leer en toerus om ander te help.
· God het ons sy eiendom gemaak. Ons is God s’n. Hy is ons Skepper en ons Pa.
As ons dus een ding sê en ons dade getuig nie dieselfde boodskap nie, lê die fout êrens by ons. Êrens luister ons dan nie na die Heilige Gees nie. Ons laat nie toe dat Hy die stuur van ons lewe oorneem nie. God het alles voorsien, maar ons maak ’n keuse daarteen. Nee, man. Kom ons maak ’n ander plan. Kom ons breek met die verlede en begin vandag ons dade in lyn kry met wat uit ons mond kom. Kom ons neem hierdie toerustingspakkie van God en maak ’n verskil daar waar ons vandag gaan!
Om oor na te dink
Staan jou dade altyd in lyn met jou woorde?
Waar moet jy meer versigtig wees?
Hoe kan jy meer sensitief word vir die leiding van die Heilige Gees?
Gebed
Amen