Dade wat God laat glimlag
Hier met die draai van die millennium, terwyl ek nog geboer het, begin die Stellenbosch Bestuurskool ’n kursus met die naam: Program in wynbestuur. Die idee agter die kursus is om vir mense wat in leiersposisies ingegroei het, maar nie noodwendig die kwalifikasies gehad het nie, meer te leer oor bestuur.
Ek het dit verskriklik geniet, meer as enige van my ander studies, omdat ek reeds in die bedryf was en al die kennis in die wingerde kon toepas. Dit het vir seker baie waarde bygevoeg.
Een van die programme wat hulle ons geleer het, was om ’n besigheidsplan op te stel. Met elke nuwe onderneming wat ek aangepak het, het ek so ’n plan bymekaargemaak. Selfs met die begin van Kruispad247 het ons ’n volledige besigheidsplan opgestel.
Dit help jou net om presies te formuleer wie jy is, waarheen jy op pad is en hoe jy daar gaan uitkom. In elke ding wat ons elke dag doen, vra ons ons af of dit in lyn is met ons visie — om God se Woord in vandag se woorde te bring.
As dit so is, is ons nog op koers, maar as dit nie is nie, moet ons weer daaroor dink. As ek dink ek moet my koffers aanvul met ’n solar besigheid op die kantlyn, omdat dit deesdae so ’n groot behoefte is, toets ek dit eers aan Kruispad247 se visie. Vir seker pas so ’n besigheid nie in by die rede waarom Kruispad247 bestaan nie, al kan dit baie geld inbring.
Eintlik behoort elke kind van God ’n besigheidsplan op te stel. Ons moet ook vra wie is ons, waarheen is ons op pad en hoe gaan ons daar uitkom. Ons moet vir ons ’n visie opstel en sorg dat alles wat ons doen by die visie inpas.
Ons almal het plus-minus dieselfde visie. En ons kry dit sommer net hier in God se Woord: Doen en gee vir die Here dit waarvan Hy hou. Dit is eintlik so eenvoudig. Dit wat ek elke dag doen en gee, moet vir God ’n glimlag op Sy gesig gee.
Wanneer ons dan iets doen, moet dit vir God goed wees. Wanneer ons iets doen wat nie hierby inpas nie, moet ons dit los. Dis ’n mors van tyd. Wanneer ek met mense praat, wanneer ek iets vir hulle doen, moet dit vir hulle goed wees, want dan sal dit natuurlik ook vir God goed wees.
Baie mense leef die lewe sonder ’n plan. Hulle vat die dag soos dit kom en doen wat op hulle bord geskep word. Dis heel waarskynlik die rede hoekom so baie mense ware vreugde en vrede langs die pad mis.
Die mens is gemaak om te doen waarvoor hulle geskape is. As jy hierdie doel of visie mis, voel jy die heeltyd leeg, maar as jy dit doen, as jy doen wat vir God goed is, voel jy waardevol omdat jy werklik ’n verskil gemaak het.
Gelukkig het Jesus vir ons hier gehelp. Die vers eindig af met: … want Jesus maak dit vir julle moontlik. Jesus is die middelman, want baie keer is ons woorde en dade skeef, maar gelukkig kom dit via Jesus by God aan. Hy help ons dat dit mooi en reg vir God verpak word. Dankie tog daarvoor, anders sal ons dade nie so goed gelyk het nie.
Laat dit ons aanspoor om van nou af ons visie hard en duidelik uit te leef sodat alles wat ons doen, vir God goed is.
Teks
1 Petrus 2:1-8
Om oor na te dink
Wat is jou visie?
Is jou visie in lyn met jou skeppingsdoel?
Waar moet jy ontslae raak van dinge wat nie by jou visie pas nie?
Gebed
Vader, ek bevestig nou dat my visie is om dinge te doen wat vir U goed is. Wys my waar ek dinge moet laat staan en waar ek anders moet doen. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.