God se Woord in vandag se woorde

Dankie vir die komma!


Een ding staan soos ’n paal bo water: alle mense sal eendag voor God moet gaan staan. Dis iets waarby niemand verby kan kom nie. En dan maak my maag ’n draai, want ek wonder wat gaan ek sê.

As ek so oor my lewe kyk en sien waar ek, om dit mooi te stel, oor die grense van die lewe gebars het, sien ek nie na die ontmoeting uit nie. Dan wonder ek of daar nie êrens ’n plekkie is waar ek by die agterdeur kan inglip om dié ontmoeting te systap nie.

Ek wonder of jy ook so voel?

Die Bybel is egter baie reguit daaroor en daar is nêrens ’n skuiwergat in die pad wat elke mens op aarde moet stap, nadat hulle tydjie hier op aarde verby is nie: 27Net soos ’n mens maar een maal sterf en dan voor God moet gaan staan om sy oordeel aan te hoor,

“Om sy oordeel aan te hoor,” klink nie lekker nie. Dis soos iemand wat weet hy het verkeerd gedoen en sy advokaat kon hom nie loskry nie. Hy weet wat die straf vir sy dade is en nou staan hy in die beskuldigdebank en wag vir die regter om te begin praat. Hy weet wat kom. Hy weet die dae van vryheid is verby, dat Hy nou toegesluit gaan word en hulle die sleutel vêr weg gaan bêre.

So sal ons eendag almal voor God moet gaan staan en wag vir die uitslag van ons lewe hier op aarde.

Gelukkig is daar ’n komma aan die einde van vers 27. Ons storie hou gelukkig nie aan die einde van die vers op nie. Ja, ons moet almal voor God gaan staan, ons moet die oordeel van ons doen en late op die aarde aanhoor. Maar die uiteinde van ons paadjie is heel anders as wat ons verdien.

Jesus sorg vir die komma en die uitslag van die oordeel verander handomkeer. Die ware sprokiesverhaal breek in vers 28 oop: so het Jesus net een maal gesterf. Sy sterwe was soos ’n offer waarmee Hy gesorg het dat God al die verkeerde dinge oorsien wat baie mense gedoen het.

Net een keer was genoeg vir Jesus om te sterwe om so te keer dat ons vir ewig die duisternis moet in en die sleutel weggegooi word. Net een keer was genoeg om te betaal vir al die verkeerde paaie waar ons afgedraai het.

Dis so eenvoudig. So maklik om te verstaan en tog so moeilik vir baie mense om te snap. Soveel mense wat hul rug op God draai. Soveel mense wat bewustelik teen die verlossing en vryheid kies en nie omgee dat hulle opgesluit word en die sleutel weggegooi word nie.

Ai!

Jesus, dankie vir die komma! Dankie dat die uitslag daar in die raadsaal heeltemal omgedraai is. En daarvoor het ek niks gedoen nie. Vir seker sit dit ’n wip in my stap en kan ek hierdie swaar wat ek in die wêreld moet verduur, aanvat, want my Jesus se bloed het gevloei en gesorg dat die uitslag van my hofsaak in my guns sal wees.

Teks
Hebreërs 9:23-28

Om oor na te dink
Hoe lyk jou lewe?
Hoe lyk jou uitspraak?
Sien ’n mens dit in jou manier van lewe?

Gebed
Kom ons bid weer: Jesus, dankie vir die komma! Dankie dat die uitslag daar in die raadsaal heeltemal omgedraai is. En daarvoor het ek niks gedoen nie. Vir seker sit dit ’n wip in my stap en kan ek hierdie swaar wat ek in die wêreld moet verduur, aanvat, want my Jesus se bloed het gevloei en gesorg dat die uitslag van my hofsaak in my guns sal wees. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek