Deel die waarheid
Oupa kuier by ons. Ons werk, so oupa moet maar sy eie ding doen. Ek hou hom dop. Hy is pal op sy foon. Teen middagete moet hy eers die foon gaan laai, want sy skermtyd vreet sy battery.
Dis verstommend om te sien hoe oupa aan die begin nie eers geweet het waar om dit aan te skakel nie en vandag is sy phone-tjie sy grootste maatjie. Dit is hoe hy en sy tjommies met mekaar kommunikeer, al is hulle anderkant die 80. Hulle deel grappe en stories, maar hulle deel ook graag getuienisse, Bybelstories en kort preke met mekaar. Hulle bemoedig mekaar en hou mekaar op die pad.
Dit is darem verstommend hoe tegnologie dit vir ons makliker gemaak het om te kommunikeer. Hoe wonderlik sou dit nie vir Paulus gewees het as dié tegnologie al in sy tyd beskikbaar gewees het nie!
Paulus se ontmoeting met Jesus, het so ’n groot impak op sy lewe gehad dat hy dit eenvoudig net nie vir homself kon hou nie. Met alles in hom moes hy die boodskap uitdra. Hy het alles tot sy beskikking gebruik en nie toegelaat dat enige uitdaging hom van sy spoor afdruk nie. Selfs die feit dat hy nie goed was met die skrywery nie, het nie sy spoed gebreek nie. Hy het iemand gekry om namens hom die pen op te tel.
Hy moes die waarheid by so veel as moontlik mense uitkry. Vir hom was dit ’n hemelse roeping: God het my aangestel om vir almal wat Hy uitgekies het om sy kinders te wees te vertel hoe om te glo. Ek moet die regte kennis oor die waarheid met hulle deel.
Die kennis wat hy ontvang het oor hoe om ’n Christen in die wêreld te wees, hoe ’n mens moet glo, moes hy deel. Die waarheid oor ’n liefdevolle God wat Homself nie kon keer om ‘n blink plan te maak om sy kinders van die ewige vuur te red nie, moes hy die wêreld indra. Hy kon nie anders nie.
Vandag is dit nie veel anders nie. Elkeen van ons wat ’n kind van God genoem word, het die opdrag om God se woord te deel. Die wêreld het dit so nodig. Die wêreld ploeter in die donker rond. Mense loop in mekaar vas. Mense verwoes en breek af, selfs mekaar, omdat hulle nie ’n idee het van wat waar is en wat die groot leuen is nie.
Mense loop verby oop kerkdeure om net om die volgende draai in ’n muur vas te loop. Mense verloor hoop en sien nie meer lig nie. Kyk maar om jou. Kyk hoe negatief is die mense.
Ek laat sak my kop in skaamte as ek besef dat ek ook ’n deel het aan die oorsaak hiervan. Dis omdat ek nie die waarheid vir my maters om my oopbreek nie. Nee, ek weet ek hoef nie op die straathoeke te gaan preek nie, maar net deur my lewe mooi te lewe kan ek die waarheid vir ander oopbreek. Dit is my roeping. Dis ons almal wat kinders van God is, se opdrag om die lig in ons donker wêreld aan te skakel.
En eintlik is dit so maklik deur net die share-knoppie te druk.
50 Suid-Afrikaanse kunstenaars verras Johnny Clegg, wat kanker het, met ’n opname van sy eie lied, The Crossing (https://www.youtube.com/watch?v=WKWEEpA0HkY&feature=youtu.be). Dit gryp my aan. Dis hoendervleis mooi. Ek deel dit met amper 100 mense.
As ek maar net ook God se waarheid ook so sou deel, hoeveel anders sou die mense om my nie al gewees het nie …
Teks
Tit 1:1-4
Om oor na te dink
Glo jy jy is ook geroepe om die Waarheid te deel?
Hoe kan jy dit doen?
Vir wie?
Gebed
Vader, U het so baie vir ons gedoen. U het my lewe so baie verander. U is die Lig en in my lewe. U verdryf die duisternis en help my om staande te bly. Gee my die krag om vir ander U lig te skyn. Amen.