God se Woord in vandag se woorde

Deel van die familie


Hulle sê mos dat jy jou vriende kan kies, maar nie jou familie nie. Hulle is vir jou ge-issue en dit is klaar. Ek wonder of dit vir jou skoonfamilie ook geld, maar dit eers daar gelaat, want ek het ’n gevoel ek loop nou op gevaarlike grond.

In ’n familie is daar gewoonlik sekere voordele waaraan al die lede van daardie familie deel. Ongelukkig is daar wel sommige mense wat nie sulke positiewe ervarings rondom familie het nie, omdat daar onderlangs gekonkel was en sommige nie dieselfde as die ander ontvang het nie.

Wanneer ons egter deel word van die familie van God gebeur dit nie so nie. Daar is nie sommige wat bevoordeel word en ander wat aan die agterspeen moet suig nie. Nee, ons almal word erfgename van God. Ons almal ontvang dieselfde. 6Die geheim is dit: enigiemand wat in Christus Jesus glo (selfs al is hy ’n nie-Jood), word ’n kind van God en kry by God wat Hy vir al sy kinders gee. So ’n persoon is dan saam met die ander gelowiges die liggaam van Christus. Hy kry alles wat God in die goeie boodskap aan Christus Jesus se mense beloof het.

Die eerste groot en wonderlike nuus is dat as jy in God glo, jy outomaties deel word van sy familie. Andersom gestel: Wat is die sleutel om toegelaat te word in die familie van God? Glo net in God. Hoe kan ek deel hê aan al die voordele wat by die familie van God uitgedeel word? Glo net in God. Dit is so maklik soos dit.

Dan kom die groot belofte: Alles wat God vir sy kinders belowe, word nou ook joune. Wow! Besef jy watter groot voorreg dit is om kind van God te wees? Besef jy werklik al die perks wat jy kry net om in God te glo? Of jy nou Jood of Mohammedaan is, jy word oor dieselfde kam geskeer. Voor God is daar nie verskillende tipes mense nie. God sien net een label raak: Kinders van God. En aan hulle word dieselfde voordele uitgedeel.

Dit is dan sleg om so in die wêreld te kyk en te sien dat die kinders van God dit nie uitleef nie. Die erfporsie is nie sigbaar nie. Hulle leef as arm, beteuterde mense wat eintlik nie ’n reg het op die lewe nie. Hulle leef ’n lewe waar hulle verskoning maak dat hulle lewe. En dis so ver verwyderd van die waarheid. God lyk nie so nie. God se familie lyk nie so nie.

Wanneer die seuns van wyle prinses Diana en prins Charles in die koetse in die strate van Engeland ry, kan die mense wat langs die pad staan, sien dat hulle deel is van die koninklike familie. Hulle lyk soos koninklikes. Hulle gedra hulle soos koninklikes (Ok, die meeste van die tyd…) en almal weet waar hulle vandaan kom en waar hulle inpas.

Ons moet leef soos familie van God. Ons moet leef met ons koppe op, al gaan dit soms swaar. Ons moet leef met die wete dat ons broers en susters van Jesus is en dat wat Hy erf, ons ook gaan erf. Ons moet weet waarheen ons op pad is en ons moet dit uitleef. Ons leef en hou vas aan die beloftes wat God vir Jesus gegee het en weet dat dit ook vir ons waar is.

Maak nie saak hoe druk die pad vandag voor jou lê nie. Maak nie saak hoe swaar dit met jou geldsake en verhoudings gaan nie. Maak nie saak of dit vir jou voel asof jou hele lewe inmekaar gaan val nie, jy kan nog steeds lewe soos ’n koninklike, soos familie van Jesus en weet dat God se beloftes ook vir jou is en dat Hy regtig vir sy familie sorg.

Leef soos ’n koninklike wat deel is van God se familie.

Teks:

Efesiërs 3:1-13

Om oor na te dink

Glo jy in God?

Glo jy dat jy deel is van God se familie?

Sien ander dit raak?

Gebed

Vader, dankie dat U my deel maak van u familie. Dankie dat Jesus my broer is. Dankie dat al u beloftes ook vir my waar is. Help my om soos ’n koninklike op te tree en te weet dat U altyd vir my sal sorg. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek