Deur ander oë
Dave Pepler vertel vir Amoré op RSG van hulle toer na Rwanda en watter ongelooflike ervaring dit was. Die land was in 1994 nog deel van ’n oorlog waar die seerste en grootste volksmoorde nog ooit plaasgevind het.
Die nuwe leiers het egter besluit om die land se geskiedenis om te draai en ’n plek te skep waar hul mense in vrede en liefde kan leef. Hulle het korrupsie binne twee jaar uitgewis. Hulle het besluit dat al manier hoe vertroue weer sy opwagting kan maak, is om saam te staan as een man.
Elke motorfietsbestuurder wat sy motorfiets as ’n taxi gebruik, moet ’n valhelm dra en ook een hê vir sy passasier. By die taxi-staanplekke staan almal netjies in ’n ry. Dis ongehoord vir die res van Afrika.
Die landbou is aan die groei. Nuwe innoverende projekte is staangemaak en boere werk saam met die koöperasies om die beste produkte te lewer. Nuwe damme is gebou vir visplase met hoender- en haas hokke.
Elke laaste Saterdag van die maand is elke liewe winkel toe, want dit is land-skoonmaak-dag. Almal help daarmee. Tot die president. Geen kind het gebedel nie. Die mense praat sag en vra: “Waar kom julle vandaan? Welkom in Rwanda.”
Dave sluit sy praatjie af met: Laat dié wat oë het om te sien en ore het om te hoor, nou kennis neem van die suksesse van Rwanda.”
Sjoe, watter mooi, wonderlike verhaal van een van ons lande in Afrika wat vanaf die ashoop opgestaan het. Mag ons Suid-Afrikaners tog by hulle leer en laat ons reënboognasie vir die wêreld wys hoe ons in vrede en liefde kan saamleef.
Hoekom vertel ek die storie? Want dit is ’n feel-good storie. Omdat ek droom van my land wat ook eendag so kan lyk. Ek vertel dit ook, sodat ons kan verstaan hoe maklik ’n mens nuwe dinge kan leer deur ander se oë.
Ek en jy was dalk nog nie in Rwanda nie, maar deur net te luister na Dave se praatjie met Amoré, sien ons die land, ervaar ons die mense en begin daar ’n droom vir ons land. As dit daar kan werk, kan dit mos hier ook werk.
Dit is presies wat Jesus kom doen het. Dit was net die Jode wat vir God geken het. Die res van die mense het nie geweet van Hom nie. Toe kom Jesus aarde toe en stel God bekend aan die nie-Jode.
21Julle kan op God vertrou, omdat julle gesien het wat Hy vir Jesus gedoen het. Hy het Jesus uit die dood opgewek en aan Hom eer en baie hoë status gegee. Net God kan dit doen. Julle kan God dus vertrou. Julle kan maar seker weet dat Hy dit alles iewers in die toekoms ook met julle sal doen.
Ons leer vir God ken as ’n liefdevolle Vader wat bereid was om Sy Seun te stuur om te sterf vir alle mense se sondes. Ons leer vir God as ’n God wat ’n mens kan vertrou en na wie jy enige tyd kan gaan.
Soos ons die wonder van Rwanda deur Dave se oë sien en droom, so sien ons vir God deur Jesus se dade. Mag ons droom dat die res van die mensdom ook vir God sal sien. Ja, mag ander vir Jesus en God deur ons sien en hulle aanneem as Vader en Verlosser.
Teks
1 Petrus 1:17-21
Om oor na te dink
Hoe sien jy vir Jesus?
Hoe sien jy vir God?
Sien ander vir Jesus en vir God deur jou?
Gebed
Vader, dankie dat U vir Jesus gestuur het, sodat ek vir U kan leer ken. Help my om vir ander te wys watter verskil U in my lewe maak en wat U ook in hulle lewe wil en kan maak. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.