God se Woord in vandag se woorde

Deur die oog van ’n naald


Ek sien ’n spotprentjie van twee manne wat ’n baie groot kettie se rek span. In die plek van ’n groot rots is daar ’n kameel met baie groot oë. Aan die ander kant steek daar ’n oog van ’n naald uit die grond. Daar staan twee manne. Een met ’n groot blokhamer en die ander een met ’n moewiese drein. As twee manne die kettie los, moet die een man die kameel deur die naald probeer slaan, terwyl die ander een hom moet deursuig. Geen wonder dat die arme kameel se oë so groot is nie. Die onderskrif: Yet another attempt to fit a camel through a needle.

Die spotprentjie is natuurlik na aanleiding van Jesus se gesprek met die ryk jongman wat gevra het hoe hy moet maak om by God uit te kom. Die jongman kon egter nie sy kop om Jesus se voorstel om alles te verkoop en vir die arm mense te gee, kry nie en het sy rug gedraai en weggeloop. Matteus 19:23: Terwyl Jesus die man agterna kyk, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se wêreld te kry nie. 24Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om in God se nuwe wêreld te kom.”

Die naald waarvan Jesus hier praat, is nie die naald soos dit in die spotprentjie weergegee word nie. Ek het ook lank die fout gemaak en kon nie lekker insien hoe selfs ’n baba kameel deur die oog van ’n naaldwerk naald kon gaan nie.

Die naald waarna Jesus verwys is egter ’n deur wat toegang tot Jerusalem gegee het. Die hek of deur se naam was die Oog van die Naald. Wanneer die groot hekke wat toegang tot die stad gee weens veiligheidsredes saans toegemaak word, kan mense wel nog die stad inkom deur die Oog van die Naald hek.

Die deure is aansienlik kleiner en reisigers kon nie op hulle kamele inry nie. Dit was eintlik soveel kleiner dat die kamele heeltemal afgepak moes word sodat hulle sukkel-sukkel op hulle knieë moes afsak om daardeur te kom.

Dis dus nie onmoontlik vir ’n kameel om deur die Oog van die Naald te kom nie, maar dit gaan nie so maklik wees nie. Net so met ’n ryk man. Dit is vir seker nie vir ’n ryk man onmoontlik om die hemel in te gaan nie, maar moeiliker. Dit is moeiliker, omdat daar so baie dinge is wat hulle van die pad af kan lok.

En dit is presies waaroor Paulus vir Timoteus waarsku: 10Om agter geld aan te hardloop laat jou in die kloue van allerhande slegte dinge inhardloop. Daar is party mense wat eers aan die kerk behoort het, maar toe so agter geld begin aanloop het dat hulle vandag nie eens meer ’n lid van die kerk is nie. Ons weet hoe sleg dit nou met hulle gaan. Hulle het die een probleem op die ander.

Geld is nie alles nie. Geld waarborg nie geluk nie. Geld bring nie vrede nie. Inteendeel, dit kan ’n mens wegrokkel van God. ’n Mens kan so afhanklik raak van geld en soveel daarop vertrou dat jy soos die ryk jongman jou rug op Jesus draai.

Nee, daar is niks fout om baie geld te hê nie. Vir sommige seën God uit hulle sokkies met geld. Maak net seker dat jy dit reg gebruik. Maak seker dat dit nie jou baas raak nie. Doen daarmee soos God wil hê jy moet doen. Woeker daarmee en seën ander net soos jy geseën word.

Dan sal jy vrede en vreugde ervaar.

Teks
1 Timoteus 6:6-10

Om oor na te dink

Hoe werk jy met geld?
Hoe werk geld met jou?
Moet jy êrens iets deel?

Gebed

Here, help my om alles wat U aan my toevertrou het volgens U wil te gebruik. Help my om van niks en niemand anders as U afhanklik te wees nie. Help my om dit wat U vir my gee met ander te deel sodat ek ook ’n verskil in U koninkryk kan maak. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek