Deur God aangestel
In die Ou Testament lees ons van Moses wat nie te gemaklik was met sy aanstelling as die persoon wie God se volk uit slawerny moes lei nie. Ek vermoed hy was net goed prakties, want hy het geweet daar sal baie onderhandelings met die koning Farao moet wees en hy het hierdie een kardinale foutjie.
Hy het ’n spraakprobleem. Hy sukkel om twee woorde agter mekaar uit te kry. Op ’n manier is dit maklik om agter so ’n gesukkel weg te kruip.
God vind Moses se rookskerm nie snaaks nie en maak ’n plan. Hy stel sy ouer broer, Aaron, aan as sy segsman en as hoëpriester. Dit was ’n gedugte span wat baie reggekry het.
God roep mense op vir spesifieke take. Hulle gawes is die meeste van die kere die aanduiding op watter gebied God hul gaan gebruik.
Baie keer sê mense hulle weet nie lekker wat hul gawes is nie. Dan sê ek gewoonlik dit is daardie iets wat jy doen wat vir jou lekker is om te doen. Daardie ding wat jy doen wat nie moeite is nie. Inteendeel, dit gee jou energie. Jy sal enige tyd van die nag of dag opstaan as iemand jou vra om dit waarin jy goed is te doen.
En dit is ook meestal binne hierdie energiegewende gedrag wat God jou in die wêreld roep. Jy sien, daar is mense wat nie die vaardighede het nie of iets ontbreek by hulle. Jy sit met hope daarvan en al wat God hier wil doen, is om die behoefte met jou talente aan te vul.
So het die mensdom heeltemal te kort geskiet. Die mensdom is so deur sonde geklap dat hulle heeltemal die pad verloor het. Hieraan kon hulle eenvoudig niks doen nie en die eindpunt lyk nie rooskleurig nie.
Daar was iemand nodig om die mensdom uit die grootse verknorsing te help. God moes ’n plan maak en roep toe vir Jesus op om met Sy sak gawes die mensdom te help.
Soos God vir Aaron geroep het, roep Hy vir Jesus om die hoogste hoëpriester te wees: 4Iemand kan nie self besluit dat hy ’n hoëpriester wil wees nie. Nee, God roep ’n mens om daardie werk te doen, soos Hy Aäron geroep het. 5Jesus het ook nie vir Homself die belangrike werk van hoëpriester gevat nie. God het vir Hom gesê: “Jy is my Seun en Ek is jou Vader van vandag af,” 6of soos God op ’n ander plek sê: “Jy sal vir altyd ’n priester wees; Jy sal ’n priester wees soos Melgisedek dit was.”
God kies. God roep. God stel aan. God het vir elke probleem ’n oplossing. As daar ’n vakante pos is, staan die opvolger alreeds in die ry. Dis God se werk. Hy roep mense op en stel hulle aan om daar waar leemtes is, te vul.
Die probleem is dat baie mense soos Moses is en ’n sak vol verskonings uitruk. Daarom dat God Hom so-effe vervies het vir Moses se verskonings.
Daar is mense wat baie swaarkry, omdat baie van God se kinders te veel verskonings het en nie besef dat hulle uitverkies en aangestel is deur die hemelse God nie. Ek hoop nie jy is een van hulle nie.
Kom ons raak rustig en steek ons hand op en sê: “Here, hier is ek, gebruik my. U het my aangestel om hier op aarde ’n verskil te gaan maak. Ek sal gaan. Gee U asseblief net die krag.”
Teks
Hebreërs 5:1-6
Om oor na te dink
Wat gee jou energie?
Wat is jou talente?
Waar moet jy dit gebruik?
Gebed
Here, hier is ek, gebruik my. U het my aangestel om hier op aarde ’n verskil te gaan maak. Ek sal gaan. Gee U asseblief net die krag. In Jesus se Naam, amen.