Die ander kant van God
Ek het nie my eie pa goed geken nie, want behalwe dat hy oorlede is toe ek dertien jaar oud was, was hy ’n predikant en in daardie jare was die predikant die gemeente se eiendom. By die gemeente en sy mense het hy die meeste tyd gespandeer.
Wat ek van my pa onthou, is sy groot glimlag en sy vriendelikheid. Hy het altyd vir mense omgegee en sou enige iets vir ander mense doen. Veral vir die wat in nood is wou hy altyd help, al was dit ten koste van homself.
Tog was daar ’n ander kant van hom wat nie gehuiwer het om verkeerde dade te straf nie. My pa het ’n hele ry rottangs gehad en dit was jou “voorreg” om jou “gunsteling” te kies vir die taak op hande. Na jy huiwerig die gekose een oorhandig het, moes jy gaan buk.
Ek weet dit was nie vir my pa lekker nie. Na elke hou, het hy ons eers op sy skoot getel, gewag dat ons ophou snik en dan mooi vertel hoekom hy dit doen. Elke sessie tussen die hou het hy afgesluit met: “Ek is baie lief vir jou.”. Wat ons natuurlik nie lekker kon glo met die boude wat so brand nie.
Ons het later geleer om eerder na ons ma te hardloop as ons vermoed ons pa gaan uitvind oor ons verkeerde dade, sodat sy ons kon slaan. Sy kon glad nie slaan nie en my pa sou ons nie weer slaan as ons by haar pak gekry het nie. Maar wag, ek is al weer op ’n sypaadjie.
My pa was uiters lief vir sy kinders. Hy was ’n goeie pa. Hy was regverdig en baie genadig. Maar soms, as jy te wyd afgedwaal het, was daar straf. En dis iets wat ’n mens nie altyd wil onthou of oor praat nie.
En op ’n manier is dit ook by God so. Die prentjie wat ek van God skilder, is ’n liefdevolle oupa, wat met ’n heel paar kleinkinders op die skoot sit. ’n Vader wat net die beste vir Sy kinders wil hê.
Tog is daar ook ’n ander kant. ’n Kant waar Hy regverdig is en wanneer mense eenvoudig nie gehoor wil gee aan Sy oproepe nie en vassteek in hulle eie spore, sal hulle die gevolge moet dra.
3… God self het mos gesê: “Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.”
Dis nie ligte musiek nie, maar tog nodig vir ons om dit weer te hoor. Die mens kan nie maar net aangaan om skeef te trek nie. Ons moenie met God se genade speel nie, want êrens is daar ook ’n lyn. En God skuif nie die lyn aan nie.
Wanneer mense te hardkoppig is en nie gehoor gee aan die Heilige Gees se stem nie, staan hulle baie naby aan die lyn van geen omkeer nie. Wanneer hulle oor die lyn trap, is hulle op Godverlate vlakte, waar selfs God nie meer is nie. En hier is dit vrek alleen. En swaar. En seer.
Laat ons tog nooit naby die lyn kom nie en mag ons seker maak dat almal wat binne ons invloedsfeer leef, ook dié kant van die lyn bly.
Teks
Hebreërs 4:1-6
Om oor na te dink
Hoe lyk jou prentjie van God?
Sien jy ook die ander kant van God?
Hoe vêr is jy van die lyn af?
Gebed
Vader, dankie dat ek weet U is my Vader. Dankie dat ek nie aan die ander kant van U hoef vas te kyk nie. Ek besef dit is maar net genade. Maak my hart sensitief vir ander wat te na aan die lyn leef en gee my die wysheid en krag om hulle te help. Amen.