Die appelkar word omgegooi
My vriend en besigheidsvennoot was baie innoverend. Hy het nooit ophou probeer nie. Hy het gedurig by my kantoor ingestap met ’n nuwe konsep of plan wat ons tog moet probeer.
Op die ou end het hy ’n heel paar produkte staangemaak, wat die hele appelkar omgegooi het. Een daarvan was balustrades (reëlings) wat geen, of bitter min onderhoud nodig het. Die produkte is van resin gemaak en vulsels van sand en ander sandverwante produkte is gebruik.
Wanneer ons die produk opgesit het, was jou instandhouding op die balustrades vir altyd verby, want die produk kan nie roes of vrot nie. Soveel anders as die hout- en staalreëlings wat voor elke winter eers ’n ordentlike skuur moet kry en dan weer geverf moet word.
So het hy ook die appelkar kom omgooi met die vensterrame. In plaas van ’n gat los en die aluminiumvenster na die tyd inbou, het die bouer ons polimeer ingebou, met ander woorde dit raak deel van die muur. Wanneer die bouers klaar gemors is, is die aluminiumvensters in die polimeerraam ingeskroef en maak dan 100% dig toe. Dit neem twee manne ’n oggend om ’n gemiddelde drie-slaapkamer huis se vensters te installeer.
Ek kan nog baie aangaan oor die wonderlike produkte wat die appelkar kom omgooi het. Dit was werklik innoverend en daar is vir seker baanbrekerswerk op verskillende terreine gedoen.
En so het Jesus ook die appelkar kom omgooi. Die manier hoe daar met die mens se sondes in die verlede afgereken was, was om ’n bok of ’n kalf te slag en dan moes priesters dit aan God offer. Hierdie diere se bloed moes keer op keer vloei. Dit was nie ’n permanente oplossing nie.
Soos wat my vriend innoverend was, die appelkar kom omgooi het en splinternuwe produkte ontwikkel het, kom God ook en maak ’n splinternuwe plan staan, soos wat daar nog nooit was nie: 12Hy het nie in die hemelse Heiligste deel ingegaan omdat Hy die bloed van diere by Hom gehad het nie, maar Sy eie bloed. Hy het net een maal in die Heiligste deel met Sy bloed as offer ingegaan en so het Hy dit vir mense moontlik gemaak om altyd by God te wees.
Die mense was gewoond daaraan dat offers vir hulle sondes gedurig moes gebeur. Dis maar hoe dit altyd was en dit sou seker nog altyd so gewees het, as daar nie innovasie was nie. Die verskil het in die bloed gelê. Omdat dit Jesus se bloed was, Koninklike bloed, was dit genoeg om vir altyd die mens se sondelas te dra.
Dit was vir seker revolusionêr. Vir die eerste keer en laaste keer. Dit was genoeg vir al die mense se sondes. Jesus is een keer die hemel in. Hy hoef nie weer te sterf nie. Hy hoef nie weer en weer die heilige deel in te gaan nie.
Een keer was genoeg – omdat dit Sy bloed was.
Dankie tog daarvoor. Dankie dat dit genoeg is vir my hoop sonde. God is regtig so goed vir ons!
Teks
Hebreërs 9:11-12
Om oor na te dink
Wat beteken Jesus se bloed vir jou?
Wat doen dit aan jou?
Wat doen jy anders as gevolg van Jesus se bloed wat vir jou gevloei het?
Gebed
Ons Vader, dankie dat U so innoverend is. Dankie dat U die appelkar kom omgooi het. Dankie dat ons nie nou nog diere moet offer nie. Dankie dat Jesus se bloed een keer genoeg was. Amen.