Die blondekop Seninkie en die kwaai rooikop tannie!
Ons dogter studeer in die Kaap. Gedurende die week bly sy in ’n ou klooster wat omskep is om 50 jong studerende dames te huisves. Sy geniet die Kaap baie en as die studies haar ’n kansie gee, is sy by die markies of draf sy saam met vriende op Tafelberg se wandelpaadjies.
Tog kan sy nie wag om naweke huis toe te kom nie. Sondae na middagete begin haar gemoed so bietjie in haar skoene sak. Té gereeld is haar ogies vol water as sy hier wegry en pa sukkel self met die knop wat hier in die keel ewe skielik sy lêplek kom kry.
Ek besef dat dit vir haar moeilik is om uit hierdie veilige omgewing weg te trek en elke week haar geliefdes agter te laat.
Dis honderd persent normaal. Ons is emosionele wesens. Wanneer die omstandighede nie lekker is nie, skiet ons gemoed vol en mag die trane maar loop. Selfs vir Timoteus was dit nie lekker om uit die bekende te trek nie: 4Ek onthou nog hoe jy gehuil het toe ek laas daar weg is. Ek verlang baie na jou en dit sal vir my baie lekker wees om jou weer te sien.
Net hierdie een versie vertel vir ons ’n lang storie van die verhouding tussen Paulus en Timoteus. Paulus was Timoteus se mentor, geestelike vader, vriend, leermeester en nog meer. Timoteus is wie hy is en weet wat hy weet as gevolg van Paulus. Paulus het baie energie ingeploeg en kennis en wysheid in Timoteus se lewe gesaai.
Daar was regtig ’n besondere band tussen hulle. Daarom is die afskeid nie lekker nie. Al weet beide dat die tyd nou aangebreek het vir Timoteus om sy roeping te laat grondvat en al weet beide dat hy ’n groot rol gaan speel om God se koninkryk uit te brei, loop die trane.
Ek deel graag met jou ’n moderne weergawe van een van Kruispad se lesers:
Ons bediening het ‘n vrouekamp gereël. Om mekaar te leer ken word almal in verskillende kamers ingedeel. Daar is egter een blondekop seninkie wat viervoetig vassteek en weier om te deel behalwe met haar spesifieke vriendin.
Onse Pastoor is ‘n baie wyse man. Hy tel iets op in die gees en sy kry haar sin. Tot haar groot skok en verbasing is ek deel van die vier wat die huis deel!
Om ‘n baie lang storie kort te knip – ek het toe die Saterdagmiddag ‘n gesprek met een van die fasiliteerders en my vraag aan haar is: “Waar kry ek ‘n vriend/in om te mentor? Waar kry ek ‘n maatjie om my rug te cover as ek bedien?”
Jy sien, Gerjo Ben, ek is op ‘n plek waar ek nie net meer aan die ontvangkant van ’n bediening wil staan nie. Ek het ‘n diepe behoefte om ook te dien.
Die fasiliteerder antwoord my toe:”Jy vra die Here.” Nou-ja, dit het ek al vantevore gedoen, maar ek vra toe sommer weer.
Tydens die aandsessie word nagmaal bedien met die opdrag om iemand te kry om dit mee te deel. Ek kyk die groep deur en daar is niemand wat vir my uitstaan nie. Voor ek egter kon beweeg, staan Seninkie voor my. Ek wil met jou deel – en woeps plak sy haar langs my neer.
Ek is seker my mond het oopgehang op daardie oomblik! Dit was die laaste vrou wat ek verwag het wie met my sou wou deel. En toe deel sy met my – sommer baie woorde!
Dat daar 500 liggies vir haar aangegaan het tydens die dans waarmee ek vroeër die aand bedien het; dat sy so bang is/was vir my, want ek is die kwaai rooikop tannie in die kerk. As jy 30 is, is enige iets aan die anderkant van 40 sekerlik vir jou ‘n tannie! Dat sy ervaar dat ek ‘n spesiale maatjie nodig het en dat sy graag daardie plek wil inneem.
Dit was vir my ‘n groot vreugde om vir haar te sê dat dit spesifiek is waarvoor ek die middag gebid het. En daar bars sy in trane uit! Sy wou so graag gebruik word, maar vir haar het dit gevoel of Hy haar behoefte miskyk.
Sy was so bang ek gaan haar verwerp en hier sit ek en sy en ons is eintlik die antwoord op mekaar se behoeftes.
Abba Vader is darem wonderlik – en ja, Hy het soms ‘n snaakse sin vir humor. Die blonde, hardkoppige Seninkie en die kwaai rooikop tannie!
Mag jy ook êrens ’n Paulus wees vir iemand anders. Mag daar trane loop van seer én van vreugde. Mag jy ook vir God toelaat om in jou lewe te werk.
Teks
2 Timoteus 1:3-7
Om oor na te dink
Vir wie is jy Paulus?
Wie is jou mentor?
Waar moet jy anders?
Gebed
Here, dalk het dit tyd geword dat ek my veilige skuilplek verlaat om in die wêreld in te gaan sodat U my ook kan gebruik om U koninkryk groter te maak. Dankie dat U my nie alleen sal laat nie, maar dat U altyd saam met my beweeg wanneer ek agter U aanloop. Amen.