God se Woord in vandag se woorde

Die derde party in die huwelik


Die huwelik is heilig. Die huwelik is spesiaal. Die huwelik is ’n spesiale band wat gevorm word. Tog is daar ’n derde persoon wat ook deel van die band vorm en dit is God.

Dit is juis die teenwoordigheid van God wat dit nog meer heilig maak, as ’n mens so iets kan sê. Jy sien, heilig beteken mos afgesonder, eenkant gesit, spesiaal opsy gesit vir God. Daarom koester God die huwelik en is Hy baie ernstig daaroor dat die band ten alle koste nie gebreek word nie.

4Mense wat getroud is, moet die huweliksband respekteer en mag nie rondslaap nie. God self sal afreken met mense wat rondslaap of seksueel verkeerde dinge doen.

Ek het die voorreg gehad om my oudste dogter en haar man se verhouding dop te hou, nog voor dit begin het. Dit is wonderlik om te sien hoe die liefde blom. Dis wonderlik om te sien hoe hulle, so met die verloop van tyd, elkeen sy en haar regmatige plekkie in die huwelik inneem en hoe elkeen iets te gee het.

Elkeen se verskille trek mekaar soos ’n magneet nader. Iemand sê hoe mooi dit vir hulle was om ’n bruid so opgewonde te sien om nou uiteindelik getroud te wees. Dis hoe dit moet wees. Die twee dans om die vlam van die liefde, wat die band van die huwelik net nog sterker maak.

Dan wonder ek waar begin die vlam dan flouer raak?

Dalk is dit omdat mense nie die huweliksband respekteer nie. Mense vergeet gou dat dit ’n belofte is wat hulle voor God aflê. Mense vergeet dat God die derde party in die huwelik is. Mense vergeet dat hulle huwelik spesiaal eenkant vir God gesit is.

Mense raak verveeld met mekaar en soek opwinding anderkant die grense van die huwelik. Dis opwindend. Dis hoe dit aan die begin was. Die ligte trek hulle al hoe nader en voor hulle hul kom kry, het hul huwelik in die lig verbrand en lê daar nou net ’n donker smeulende ruïne.

Huwelike gaan deur seisoene. Die grootste nuwe seisoen wat aanbreek, is die seisoen van die kinders. Ewe skielik word die liefde nou met die kinders gedeel en is die kans daar dat die eggenote eers na die rand geskuif word. Hier, vêr van die vlam, raak dit koud en die mens hou nie van koue nie. Dit is juis hier waar partye dan die heiligheid vergeet en anderkant die grens hitte, nabyheid, ’n plekkie van behoort gaan soek.

Hul huwelik raak dan ook een van die statistieke.

God is ernstig oor die huwelik. Ja, daar gaan seisoene kom waar ’n mens alleen voel. Daar gaan tye kom wanneer ’n mens so vêr van mekaar is, dat jy glo jy gaan nooit weer liefde tussen mekaar vind nie. Tog is die seisoen om mekaar weer lief te hê soos aan die begin, net om die draai.

Moenie oor die grens loer nie. Moenie dit uitprobeer nie. ’n Mens foeter te gou daaroor. Wees lief vir jou eggenoot. Bou voortdurend aan jou huwelik. Maak moeite en wees die minste. En onthou, jou huwelik met jou eggenoot is heilig, want daar is ’n derde party, God.

Teks
Hebreërs 13:1-8

Om oor na te dink
Hoe lyk jou prentjie van die huwelik?
Het jy al gewonder hoe dit sou wees om met iemand anders getroud te wees?
Waar moet jy aan jou huwelik bou?

Gebed
Vader, ek weet al hierdie dinge van die huwelik, maar soms wonder ek ernstig. Soms beur ek meer weg as nader. Ek weet U het ons huwelik vasgebind. Help ons dat ons dit nie uitmekaar sal skeur nie. Help ons om weer soos aan die begin mekaar te bemin. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek