God se Woord in vandag se woorde

Die deur oopmaak vir ’n waterskeidingsgebeurtenis


Een keer is ’n prediker erg geroskam, want hy het op die kansel geklim en ’n paar bladsye uit die Bybel geskeur. Die kerkgangers was erg ontsteld en dis te verstane.

Die predikant het gesê dat ons die Bybel lees soos ons wil en dan lees ons net die lekker en mooi gedeeltes. Ons lees nie die gedeeltes wat jou voor die bors gryp nie. Ons lees nie die gedeeltes waar ons gekonfronteer word met ons manier van leef nie. Ons lees nie die verse wat die ander sy van God vir ons wys nie, want dit maak ’n mens so effe bang.

Wanneer ons net die lekker gedeeltes van die Bybel lees, is die prediker eintlik reg. Dan kan ons eintlik maar die ander gedeeltes uit die Bybel skeur. Dit het eintlik geen betekenis vir ons nie, waarom dit dan daar los?

Daarom gaan ek nie hierdie vers oorslaan nie: 31Om voor die lewende God te staan as jou saak met Hom verkeerd is, is erger as die verskriklikste nagmerrie wat jy kan hê.

Ek skrik juis een Sondagmiddag na ’n middagslapie wakker. Natgesweet van ’n nagmerrie, wel, seker ’n dagmerrie. Dit was ’n erge een. So een waar jy verskriklik bly is dat jy wakker geskrik het, maar jy nie jou mood kan regkry nie. Dit bly tussen die vloer en die politoer. Die erge goeters het hier in jou lyf kom vassteek en nou vervuil dit jou hele gemoed.

Wel, as jou saak met God nie reg is nie, gaan dit veel erger wees.

Dis ’n saak van lewe of dood. Jy kan self kies en ek vermoed as jy hier lees, het jy vir die lewe se kant gekies. Dit sal nie vir jou ’n nagmerrie wees nie. Jy weet vir seker dat jou saak met God reg is, dat Jesus vir jou hoop sondes gesterf het en dat jou plekkie reeds in die hemel gereedgemaak is.

Die probleem is vir die mense wat nie hier lees nie. Vir daardie mense wag daar ’n groot verrassing. Nee, dit gaan eerder ’n groot skok wees en dan gaan daar nie omdraaikans wees nie. Daar gaan nie nog ’n kans wees nie. Dit sal dan finaal wees.

Baie keer is daar ’n waterskeidingsgebeurtenis in ’n mens se lewe. Iets waar jy weet jou lewe het handomkeer verander. Dalk kan jy in iemand se lewe so iets laat gebeur. Dalk is jy net die een om in iemand se lewe in te spreek wat keer dat die erger-as-’n-nagmerrie geleentheid by hom of haar opdaag.

Ek hoor by iemand wat ’n kursus gevolg het met die onderwerp: hoe om ’n inspraak in mense se lewens te maak. Gooi gedurig die aas uit. Die een of ander tyd sal die persoon, wanneer hulle gereed is, die aas gryp. Maar hoe kan hulle die aas gryp as ons dit nie uitgooi nie?

Vra vrae soos: Sê nou maar net daar is ’n God of het jy al gedink wat sal gebeur as ons ons koppe vir ewig hier op aarde neersit? Wees subtiel.

Mense hunker na God, ’n plekkie van behoort. Sommige weet dit nie eers nie. Maar as ons beskikbaar is en vir die persone ’n ruimte skep waar hulle veilig is, sal hulle dalkies eendag net die aas gryp en so die deur oopmaak vir ’n waterskeidingsgebeurtenis.

Teks
Hebreërs 10:31-39

Om oor na te dink
Is jy gereed om jou Vader te ontmoet?
Is almal om jou gereed?
Vir wie moet jy die aas uitgooi?

Gebed
Vader, daar is baie mense rondom my met wie dit nie goed gaan nie. As my lewe verby is, is my kanse om ander van U te vertel, verby en as hulle lewe verby is, is hulle kanse om te hoor, verby. Wys my hoe om vir hulle lief te wees en U ambassadeur te wees. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek