God se Woord in vandag se woorde

Die doring in die vlees is die handrem wat beskerm


Paulus het besonderse bonatuurlike ervarings met God gehad. Groot genoeg om enige mens ’n groot kop te gee. Maar Paulus het ’n doring in sy vlees gehad. Sommige beweer dit was sy swak sig. Uit die Skrif kom ons agter dat Paulus nie lekker kon sien nie en dat dit vir hom ’n probleem was. Oor wat die doring in sy vlees was, kan ons net bespiegel, maar dat dit werklik ’n impak op Paulus gehad het, is vir seker so.

Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik, verwys na kneukels en dit is asof die doring wat net onder sy vel gesit het, hom gedurig ’n hou met die vuis of met die kneukels gegee het. 7…Al my swaarkry en swakhede was soos ’n doring wat die hele tyd in my voet bly vassit het. Ja, dit was soos ’n boodskapper wat die duiwel na my toe gestuur het om my pimpel en pers te kom slaan.

’n Konstante geveg met die bose was Paulus se voorland en hy het vir God gesmeek om dit tog net weg te neem. 8Nie minder nie as drie keer het ek die Here gevra om hierdie struikelblok uit my lewe weg te vat. “Laat al my swaarkry en lyding asseblief tog net ophou!” het ek Hom gesmeek. Dit was regtig vir hom ’n probleem en eintlik kon Paulus nie meer uithou nie. Daarom smeek hy vir God om dit weg te neem.

Tog het God dit nie weggeneem nie, want God het geweet dat as Hy dit wegneem, die kans daar is dat Paulus ’n groot kop sou kry en sy eie paadjie sou begin loop. God het eerder vir Paulus ’n kykie in die groter prentjie gegee sodat hy kon verstaan hoekom hy dan die houe van die bose moes verduur: 7Om seker te maak dat ek nie te veel van myself sou begin dink oor al die openbarings wat ek ontvang het nie, het God ’n groot struikelblok oor my pad gestuur. Al my swaarkry en swakhede was soos ’n doring wat die hele tyd in my voet bly vassit het.

Die doring in die vlees, die swaarkry en swakhede is amper soos ’n handbriek op Paulus se lewe, want as hy te vinnig gaan hol, is die kans daar dat hy buite beheer sou raak, sy wiele sou afkom en dat hy homself teen ’n rots te pletter sou val. Jy sien, Paulus het so ’n wonderlike ervaring met God gehad dat dit hom maklik kon hoogmoedig maak. Hoogmoed maak ’n mens wintie en verwyder jou oombliklik van die gewone ou op straat. Die gevolg sou wees dat Paulus geen platform sou hê om die evangelie uit te dra nie. Inteendeel, mense sou gedink het hy is verwaand en hulle sou hom glad nie ’n kans gee om sy mond oop te maak nie.

Dit is die rede vir sy doring. ’n Handrem om hom te beskerm. ’n Handrem om te keer dat hy van die pad af gaan.

So is daar dikwels ook in ons lewe ’n doring in die vlees – ’n doring in die voet wat keer dat ons te vinnig hardloop. ’n Handrem wat nie kan loskom en veroorsaak dat ons buite beheer hol nie. Ja, ons het al baie keer by God gesit en sy voete sopnat gehuil en gesmeek om tog maar die handrem los te maak. En dan doen God dit nie en ons is summier kwaad.

Maar dalk is ons swaar net soos Paulus se stukkie swaar. Dis die doring wat ons beskerm om nie te vinnig te hol nie. Dalk is ons voertuig nie gebou om so vinnig te ry nie en is dit juis die doring in die vlees wat ons beskerm van uitmekaarval en ons rug op God draai. Pyn, seer, swaar, dorings en handremme hou ons nederig. Dit hou ons naby God. Daarsonder sou ons dalk van God vergeet het. Wie weet?

Teks

2 Korintiërs 12:1-10

Om oor na te dink

Wat is die doring in jou vlees?

Kan jy daarmee vrede maak?

Sien jy God se hand daarin?

Gebed

Here, ek moet erken dat dit nie maklik is om te sien dat die dorings in my vlees daar is om my te beskerm nie. Eintlik wil ek net hê dat U dit moet kom weghaal sodat ek die lewe makliker kan leef. Help my om te verstaan dat die swaar my op ’n manier help om naby aan U te bly. Wys my ook ’n stukkie van die groter prentjie. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek