God se Woord in vandag se woorde

Die ewige lewe hou nie op nie


2 Korintiërs 5:1-5

Paulus het aan die begin van die brief hard gepraat met die mense van Korinte oor die manier hoe hulle lewe en hoe hulle eintlik behoort te lewe. In die volgende paar hoofstukke handel dit meer oor dieper teologiese waarhede. Op ’n eenvoudige manier kom breek Paulus die pad wat kinders van God moet stap, oop. Ons moet die waarhede deel maak van ons hele bestaan, want dalk word ons teologiese hokkies om die volgende hoek geskud.

Hoekom is jy op die aarde? Vir hierdie vraag is daar baie antwoorde, bv. om ’n impak te maak, om die aarde te bewoon, te bewerk en te bewaar en nog vele meer. Maar een van die grootste redes is dat ons ’n keuse moet maak vir of téén God. Hy gee vir elkeen van ons ’n verstand waarmee ons dié keuse moet maak. God het dit vir ons soveel makliker gemaak om die keuse vir Hom te maak deurdat Jesus die straf vir ons sondes aan die kruis gedra het. As ’n mens werklik verstaan wat Jesus aan die kruis gedoen het, kan ’n mens mos nie anders as om in God se arms te hardloop nie. Dit gaan my kop te bowe dat daar soveel mense is wat dan nog steeds téén God kies. Hoe stupid kan ’n mens dan nou wees?

Verstaan die ouens nie dat die lewe op die aarde net ’n baie klein tydjie in vergelyking met die ewigheid is nie? Die paar jaar wat ons nou lewe, is maar ’n spikkeltjie in die groter prentjie. En tog lewe mense asof dit alles is. Ons maak goeters bymekaar. Smag na ’n plat, rooi motor. Wil ’n nuwe kombuis hê, so asof dit die finale groot prys is wat ons kan kry. Omdat ons nie die regte toekomsvisie het nie, omdat ons nie verstaan waaroor dit regtig gaan nie, gooi ons elke keer ’n tantrum as iets ons spoed breek. Hoekom kry ek tog so swaar? Hoekom nou weer hierdie curve ball. Ek is nou-net deur die vorige krisis. Hoekom nou weer ene? Waar is God? Hoekom hoor Hy my nie?

Dis vrae van iemand wat in die verkeerde rigting kyk. Dit is iemand wat nie lekker verstaan dat dit nie eintlik oor die nou gaan nie, maar oor die toekoms. Hier waar ons nou is, is net tydelik van aard. Daar gaan ’n tyd kom wanneer die boek toegemaak gaan word. Daar kom ’n tyd wat ons die lewe sal moet agterlaat om oor te stap na die volgende een: 1Wanneer ons liggaam eendag soos ’n tent opgevou en in die grond weggebêre word, is dit nie klaar met ons nie. Gelukkig nie. Dan breek ’n splinternuwe lewe by God aan wat nooit sal ophou nie. 2Terwyl ons nou nog in hierdie ou aardse tent van ons aansukkel, kry ons swaar. Ons sien baie uit na daardie nuwe hemelse liggaam. 3Wanneer ons dit die dag van God ontvang, sal ons glad nie nakend of hulpeloos wees nie.

Dankie tog! Dankie tog dat alles nie hier op aarde tot ’n einde kom en dan is dit klaar nie. Nee, ’n splinternuwe lewe kom dan éérs waar ons ’n permanente huis gaan kry. Dan eers kom die vreugde en ware vrede wat nie deur siekte of seer of swaar of skelm of moord of kapings gesteel kan word nie.

Met hierdie prentjie in ons kop moet ons die lewe leef. Nee, niemand kan vir jou ’n gelyk pad waarborg nie. Wanneer jy in ’n tent woon, gaan die wind en weer gedurig die grense probeer skuif en soms gaan dit uitmekaar geskeur word. Maar wanneer ons besef daar is iets beter wat in die toekoms op ons wag, gee dit ons krag om weer op te staan, die tent te gaan soek, reg te maak en te leef met ’n toekomsvisie.

Kom ons kry die prentjie in ons kop. Kom ons streef daarna. Kom ons laat toe dat die prentjie ons deur die swaar help en weet: Môre is ’n beter dag. God wag vir ons op die troon waar ons met hemelse klere ge-issue gaan word, sodat wanneer ons Hom eendag ontmoet, dit ’n hemelse ervaring sal wees.

Om oor na te dink

Glo jy dat ons slegs in tente bly?

Glo jy in die hemel?

Glo jy dat jy ná die tent-lewe op aarde ook daar sal uitkom?

Gebed

Here, partymaal is dit nie vir my so maklik om my oë van die lewe hier op aarde te haal nie, want dit is al wat ek ken. Eintlik raak ek soms so bietjie bang as ek dink dat die aardse lewe eendag moet opraak. Ek glo met my hele hart dat ek eendag by U sal wees. Help my om met ’n toekomsvisie te verwag en uit te sien na U koms. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek