God se Woord in vandag se woorde

Die fokus in ons kop


Elkeen van ons is besig om deur die dinge wat in ons kop aangaan, gevorm te word. Dit wat ons ons kop toelaat om oor te dink, is bepalend van wie ons op die ou end word. Soms kan die denke in ons kop ’n handbriek wees. As jy dink dat jy nie goed genoeg is nie, is die kans dat jy eendag bo gaan uitkom nie baie goed nie. As jy glo dat jy ’n wenner is, is die kans baie goed dat jy juis eendag die resies gaan wen.

Selfs die ou-ou waarhede in die Bybel bevestig dit. Kyk mooi na Spreuke 4:23   Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed. Ons moet besef dat ons gedagtes die rigting van ons geloof en selfs ons dade kan bepaal of beïnvloed. Ons gedagtes vorm die basis van ons lewe en is rigtingbepalend.

Spreuke gee verder raad: 24Vermy dom praatjies en leuens en glibberige woorde. 25Dink mooi na oor alles wat jy sien. Kyk na die goeie dinge van die lewe. 26Let mooi op hoe jy jou lewe inrig en kyk waarheen jy stap. 27Jou manier van leef bepaal jou geluk!

Die dinge wat ons toelaat om deur ons oë en ore ons brein te bereik, het ’n groot invloed op ons eie geluk. Van kleins af laat ons toe dat sekere inligting ons beïnvloed en ander weer nie. Ons filter elke stukkie inligting. Dit is egter dié wat ons toelaat om te bly en wat ons in een of ander file stoor wat bepalend op ons lewe is.

Daarom is dit so belangrik dat ons op die regte dinge sal fokus.  2Moenie toelaat dat dinge wat nie vir Jesus belangrik is nie, vir julle te belangrik word nie. Ek praat van tydelike, aardse dinge waarmee julle julle partymaal so kan besig hou.

En kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: Ons is almal skuldig hieraan. Ons is mos op die aarde. Ons moet tog leef. Daarom moet ons werk – ag na tien ure ’n dag. Dan is dit nog die familie wat ook tyd in beslag neem. So ja, ons hele wese word ingeneem deur die dinge hier op aarde. Dis half onmoontlik om nie besig te wees met die dinge hier op aarde nie.

Hoe nou gemaak? … Bestee liewer al julle tyd aan dinge wat vir Jesus belangrik is. Dink daaroor na, praat daaroor en doen dit! Nee, ek dink nie ons moet almal nou in ’n klooster gaan sit en die heeldag net met God se dinge woel nie. Ons moet eerder vir Jesus meer betrokke maak in ons dag. Jesus wil in elke stukkie van jou dag saam met jou loop. Hy wil jou eintlik help om deur elke kruispad te stap. Hy wil vir jou wys watter deur jy moet oopmaak en so ook die wat jy liewers moet toehou.

Daarom moet ons die filters van die inligting wat ons toelaat, verstel, sodat ons meer van die dinge wat vir Hom belangrik is, toelaat. Ons moet ons fokus verskuif na God se dinge, want as dit meer in ons kop is, sal dit ook by ons mond begin uitloop. Dit sal ons hele wese oorneem en op die ou end sal ons dit wat vir God belangrik is begin doen.

Ongelukkig is hierdie nie ’n kitsoplossing nie. Nee, hierdie is ’n proses. ’n Proses wat lank duur en wat begin by ’n suiweringsproses om die dinge wat nie God se fokus is nie uit te haal om plek te maak vir dit wat Jesus se hart bly maak. Wanneer dit in plek is, sal ons dade daarna begin lyk.

Mag God ons help om ons koppe te skuif sodat ons doen en late in lyn kan kom met die dinge wat vir Hom belangrik is.

Teks

Kolossense 3:1-4

Om oor na te dink

Wat neem die meeste van jou tyd in beslag?

Wat bepaal jou gedagtes?

Waar moet jy veranderings aanbring?

Gebed

Vader, ek besef dat my fokus en U fokus nie heeltemal by mekaar uitkom nie. Ek wil meer oor U dinge dink. Ek wil my gedagtes in lyn kry met dit wat vir U belangrik is. Ek sukkel daarmee en vra dat U my sal help om meer oor U dinge te dink en te praat, sodat ek dit ook meer kan doen. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek